nadia beukes_021
Het jy gehoor?

Nuwejaarsvoorneme – Nadia Beukes pak huisprojek aan

TV-persoonlikheid Nadia Beukes (wat ook in Februarie te sien is in die fliek Mooirivier) het verlede jaar haar woonstel in Weltevredenpark, Johannesburg, met behulp van ’n talentvolle vriend en medekunstenaar ’n nuwe baadjie gegee. Sedertdien is haar emosies ook “ligter”.

VREES VIR FINALITEIT

“Ons leef in ’n wêreld waar alles vinnig gebeur, maar dit neem my hart en kop ’n tydjie om aan te pas by dié ritme. Ek was nog altyd angstig daaroor om dinge weg te gooi, want dit is so finaal. My huis moet ’n hawe wees waar ek kan rus. Gemaklik, mooi, met genoeg spasie.

Maar verlede jaar het die chaotiese binneversieringstyl van my woonstel – meubels en ornamente wat ek oor die jare vergader het, regte laslappie-dekor – net nie meer weerspieël wie ek is nie. Daar was te veel dinge uit die verlede. Die opwinding van verandering was vir my groter as die vrees vir finaliteit. Die gedagte om te begin skoonmaak, regmaak en nuutmaak was nie vir my die einde van ’n hoofstuk nie, eerder die begin van ’n nuwe boek. En ek was dapper genoeg om dit aan te pak.

DIE REGTE SPANMAAT

Om ’n vertrek se nuwe gedaante te visualiseer, en boonop bykomstighede soos duifeier-lampskerms uit te snuffel, is nie my sterk punt nie. Ek het ’n kennersoog nodig gehad en vra toe my talentvolle vriend, die akteur en danser JC Snooke, om hand by te sit. JC is ook hoofontwerper by Paper J, ’n dekoronderneming in Randburg wat papier herwin en nuwe produkte daaruit skep. Ons het ’n begroting uitgewerk en vir elke vertrek ’n tekstuur- en kleurpalet gemaak. Ons het selfs voorbeelde van dekor-idees op ’n Pinterest-bord gesit. As jy so ’n groot projek aanpak, is dit wys om saam met ’n spanmaat te werk. Dis pret, maar jy het ook die emosionele aanmoediging en motivering – ’n klankbord nodig.

Benewens die geldelike uitdagings was tyd dikwels ’n probleem. Gelukkig was daar geen haas nie en JC was gaaf genoeg om tyd in sy besige program in te ruim om ’n paar maande lank met dié projek te help.

STILTE IN MY KOP

Dit was lekker om weer te voel my omgewing beheer mý nie meer nie. Ek het wel skuldig gevoel om familie en vriende se geskenke, waaraan ek emosionele herinnerings gekoppel het, opsy te skuif. Maar soms heg jy té veel emosionele waarde aan goed. Die praktiese oplossing? Om dinge wat jy nie meer nodig het nie of wat nie in jou huis pas nie – gordyne, boeke, meubels en klere – te skenk aan ’n organisasie soos die DBV. Dit help met die ‘afskeid’ as jy weet dit gaan vir ’n goeie doel.

Jy kan met veel minder klaarkom as wat jy dink. Ons moet meer opreg leef en nie so oorheers word deur besittings nie. In my nuwe ruimte voel ek asof ek die toekoms kan indans met ’n hoopvolle hart, of ek lug uitasem. Trots verlig, want my kop is stil.’’

Wat ek geleer het

  • As jy iets wil aanpak: beplan, begroot, behou jou humorsin, begin.
  • Wees vreesloos en outentiek.
  • Betaal eerder ’n bietjie meer vir die klassieke hout-TV-kas wat jou hoendervel gee as om bloot ’n tafel te koop waarop jou TV staan.
  • Vertrou die magic van ’n nuwe begin.
  • Volg jou drome passievol.
  • Dit neem dikwels iets kleins, soos ’n verandering aan jou huis, om jouself weer te herontdek.
  • Jou kanse op sukses is groot as jy realistiese doelwitte stel.