Het jy gehoor?

Olivia Newton-John praat oor die moeilikste tye in haar lewe

Olivia Newton-John is steeds in die meeste mense se gedagtes die sprankelende jong Sandy van die film Grease. Maar sedertdien het sy in haar persoonlike lewe al baie tragedies beleef.

Die 64-jarige Grammy-wenner het aan die Britse koerant The Times gesê sy het op antidepressante staatgemaak vir 3 maande nadat haar kêrel van 9 jaar in 2005 verdwyn het. Patrick McDermott het in 2005 op ’n visvanguitstappie gegaan, en is nooit weer gevind nie. Alhoewel naasbestaandes al gesê het dat hulle kontak met hom gehad het, is dit in 2008 amptelik verklaar dat hy “verlore op see” is.

“Ek het dit (die antidepressante) gebruik totdat ek weer die lig kon sien,” sê die gebore Brit wat in Australië groot geword het en al meer as ’n 100 miljoen albums wêreldwyd verkoop het.  

“Natuurlik dink ek nog aan hom. Dit was ’n moeilike tyd …”

Ander tye het Olivia haar gewend tot terapie wanneer sy donker tye beleef het. Sy is in 1992 met borskanker gediagnoseer – in dieselfde week wat haar pa oorlede is. En in 1995 het sy ’n hartverskeurende egskeiding beleef van haar man van 11 jaar en die pa van haar dogter, Chloe Rose Lattanzi.

Sy moes ook toekyk hoe haar dogter deur haar tienerjare met anoreksie worstel.

Maar Olivia kyk nou terug op dié donker tye wat sy oorwin het vanuit ’n gelukkige plek in haar lewe.

Olivia is vir die afgelope 5 jaar getroud met John Easterling (foto links), ’n besigheidsman en bewaringsgesinde. Hulle woon nou in Amerika. Ná sy borskanker oorwin het, is sy ook ’n kampvegter vir ’n gesonde leefstyl.

Olivia - die gesondheidsfanatikus

Haar dogter is nou 27 jaar oud, gesond en gelukkig. “Sy is nou daardeur, maar natuurlik was dit baie moeilik vir ’n ouer om te sien,” sê sy oor Chloe wat, soos haar ma, ’n sangloopbaan het.

“Dit is baie moeilik vir sterre se kinders, want hulle dink hulle moet hul ouers se skoene volstaan.”

Die video hieronder is ’n uittreksel uit The Wilde Girls, ’n film waarin Olivia en Chloe teenoor mekaar speel: