Het jy gehoor?

Charlize kry internasionale toekenning + wys nuwe haarstyl

Charlize het die kollig gesteel by die opening van die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, toe sy een van drie kunstenaars was wat erkenning gekry het vir hul rol om “die wêreld ’n beter plek te maak”. Dié Oscar- en Golden Globe-wenner is vereer vir haar rol in die geveg teen MIV/vigs, veral in Afrika. 

Charlize het pragtig gelyk in ’n turkoois rok en kort haarstyl. Sy het vroeër haar lang blonde hare afgeskeer vir haar rol in die Mad Max-rolprent (foto onder), maar dit het intussen al effens uitgegroei.

Charlize se afgeskeerde hare vir Mad Max

Die 37-jarige aktrise het in haar toespraak die verwoesting beklemtoon wat MIV/vigs veroorsaak. “Ek kan aan geen groter skadu dink wat oor Afrika val nie – naamlik MIV/vigs,” het sy gesê.

Sy het egter ook haar hoop vir die toekoms uitgespreek. Haar droom is dat daar ’n generasie gebore kan word waarin niemand dié virus het nie. Sy wil ook graag die jeug bemagtig met hulpbronne en die regte inligting om ’n MIV/vigs-vrye lewe te leef.

Charlize, wat bekend is vir haar liefdadigheidswerk, is ’n vredesboodskapper vir die Verenigde Nasies en die stigter van die Charlize Theron Africa Outreach Project. Sy is ook deel van die organisasie Global Fund se nuwe veldtog, Big Push, wat MIV/vigs, tuberkulose en malaria beveg.

Die Crystal Award word toegeken aan kunstenaars wat nie slegs uitblink in hul kuns nie, maar ook help om die wêreld te verbeter.

Die ander kunstenaars wat gister dié toekenning ontvang het, is die Pakistanse dokumentêre filmmaker Sharmeen Obaid Chinoy, wat al ’n Emmy en ’n Oscar vir haar werk gewen het, en die Brasiliaanse visuele kunstenaar Vik Muniz.

HIERONDER is ‘n videogreep van Charlize se toespraak

  • Mandie Pretorius

    Ek dink regtig niks van Charlize nie,weet nie hoekom almal so ophef van haar maak nie. Sy speel in die swakste flieks denkbaar! Vloek , gebruik die Here se naam en het geen skaamte nie. Nee wat, sy sal enige iets doen vir geld en aandag. Sy is mooi maar mens sien dit nie meer raak nie. Swak karakter en kry skaam vir haar. Godslasterlik en geen waardes.