FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Het jy gehoor?

Celeb-resep: Patricia Lewis se Gesonde Bessie-Bom

SARIE.com hoor elke Vrydag by bekendes wat hul gunsteling-resep vir die naweek is. Hierdie week het ons by Patricia Lewis, van Celebrity Masterchef SA, gaan aanklop.

“Ek is mal oor dié peuselhappie, veral oor naweke, wanneer ’n mens dikwels ekstra energie nodig het. Jy kan dit selfs vir ontbyt of middagete eet. Of tussen etes. Dit is propvol vitamiene.

Bessies is gelaai met anti-oksidante, die natuur se manier om ’n mens te beskerm teen erge siektes soos kanker en dit verbeter ook jou immuniteit,’’ vertel die 47-jarige Patricia Lewis.

Deesdae is dié blonde sangeres, mal daaroor om tuisblyma van Max (wat oor drie weke 11 word) te wees in Ballito in KwaZulu-Natal. (Sy eet minstens een keer per dag dié peuselhappie vir meer energie.)

“Ek en Mark (Whittfield) is só gelukkig getroud,’’ borrel sy. Patricia lyk beter as ooit en laat die skaal trek op ’n gesonde, vietse 56 kg. “Ek is so 2 kg oorgewig, maar ek wissel nooit meer as so 3 kg op of af nie. Hoe ouer ’n mens word, hoe belangriker is dit om te let op wat jy eet en om genoeg te oefen. Ons vroue is soos motors – ons moet gereeld gediens word … As die olie vervang is, kan ons weer aangaan!’’ spot sy.

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Gesonde Bessie–Bom (genoeg vir 2)

Wat het jy nodig?

  • 2 koppies gemengde bessies (aarbeie, kruisbessies, frambose, bosbessies)
  • 20 amandels
  • 2 eetlepels gedroogde vrugte (byvoorbeeld bosbessies)
  • 2 eetlepels pampoensaad
  • 2 koppies laevet joghurt (verkieslik onversoet)
  • 2 eetlepels krakerige muesli-mengsel

Wat doen jy?

  • Skep die joghurt heelonder in ’n diep bakkie, skep die vars bessies bo-op, bedek dit met die gedroogde vrugte en sprinkel laastens die pampoensade, amandels en muesli-mengsel bo-op.

Nóg celeb-resepte