7917299
Het jy gehoor?

Ons groet legendariese sanger Johan Botha

Die Suid-Afrikaans gebore dramatiese tenoor en Kammersänger Johan Botha is Woensdag in Wene, Oostenryk, oorlede. Op 51-jarige ouderdom was hy in die fleur van sy loopbaan as Wagner-sanger.

“Johan was een van die belangrikste sangers van ons tyd en voortdurend in aanvraag by die bekendste operahuise en feeste oor die wêreld heen,” het die Kaapstadse Filharmoniese Orkes hom gister in ’n persverklaring gehuldig. Volgens die verklaring was hy een van die gevierde Grand Slam-sangers, soos verwys word na sangers wat in die vier belangrikste operahuise ter wêreld gesing het, naamlik La Scala in Milaan, Covent Garden in Londen, die Weense Staatsopera en die Metropolitan in New York.

Ná ’n lang stryd teen lewerkanker het Johan in Augustus in Kaapstad opgetree in die program Johan and Friends, wat hy toe reeds weens gesondheidsredes met 2 arias moes sny. Hy is tydens die besoek aangewys as die ere-beskermheer van die Kaapse operageselskap Cape Town Opera. Ná sy Kaapse besoek is sy laaste konsert in Johannesburg gekanselleer omdat hy nie gesond genoeg was nie.

In sy laaste onderhoud met Willemien Brümmer op Netwerk24 in Augustus sê hy onder meer: “Chemoterapie is nie vir sissies nie. Dis ’n harde storie. Ek het ses behandelings gehad oor sewe maande en elke behandeling was dit drie dae dat hulle jou vol chemo jaag.”

Vanoggend vertel ’n kollega, Albertus van Wyk: “My oorlede ouma, Christine van Wyk, het ’n toermaatskappy besit en sy het altyd Johan se ouers (wat sy goed geken het) laat weet as sy in Wene sou wees met een van haar toere, ingeval hulle dalk ’n pakkie wou stuur. Sy sê Johan was altyd verskriklik bly om Afrikaanse mense te sien en hy het selfs by geleentheid van die toergeselskap se lede op ’n begeleide toer van die Weense Staatsopera geneem, en ook vir toerlede kaartjies gereël vir die opera.”

Hy was werklik een van ons land se beste uitvoerprodukte en alom bemind in die wêreld van klassieke musiek. Hy word oorleef deur sy vrou, Sonja, en hul seuns, Louis en Marius, en sy ouers.