sr0110persoonlikhei.tif
Het jy gehoor?

Ons groet ’n geliefde kos-ikoon

Die ikoniese kosmeester en sjef Topsi Venter is gister in die ouderom van 85 oorlede.

Topsi was bekend vir haar liefde vir mense en sy het nie geskroom om haar uitgebreide kennis oor kos te deel nie. As jong sjefstudent het ek baie by Topsi gaan eet saam met haar dogter, Danielle Rittel, by hul Franschhoekse restaurant, Topsi & Co.

sr0110persoonlikhei.tif

Aan hul tafel het ek weer eens bevestiging gekry van wat ek uit huis uit geleer het: dat goeie kos iets is om te waardeer, en dat jy nooit vir bestanddele hoef bang te wees nie. Dit was ook opmerklik hoe lief sy vir diere was, en haar honde se name het almal met ’n “B” begin – soos Baguette of Brioche.

Ek onthou nog die eerste dag dat ek haar ontmoet het, want dit was vir my ’n groot oomblik om dié formidabele vrou persoonlik te leer ken. Sy en haar papegaai, dr. Arnoldus Pannevis, het jou luidkeels ontvang.

Met die intrapslag het sy jou oorweldig met haar warmte en liefde. Ek moet hartlik met Elzabé Zietsman, bekende kabaret-kunstenaar, saamstem dat Topsi die Madiba van kookkuns in Suid-Afrika is.

Vir Nataniël veral was Topsi spesiaal. Hy vertel graag dat hy byna alles wat hy van kos weet by haar geleer het:

“Topsi Venter was vir 32 jaar my leermeester, inspirasie, vriendin en tweede ma. Ek was ’n student in my vierde jaar toe ek haar ontmoet het en van toe af was daar nie ’n week waarin ons nie gepraat of gekuier of gekook het nie. Tot vier jaar gelede, toe sy voltydse versorging moes kry, is ek elke vakansie of los naweek, selfs met verjaardae en Kersfees, Franschhoek toe om elke moontlike oomblik in haar restaurant deur te bring.

“Sy het my geleer om my eie instink te vertrou, om nooit op te hou leer nie, om my minder aan die wêreld te steur, om vindingryk en onafhanklik te wees. Sy was deel van elke tree in my volwasse lewe en loopbaan. Die laaste tyd was sy swak en die einde was onvermydelik, maar van gister is daar ’n skaduwee, ’n stilte wat nooit weer sal verdwyn nie. Hoe hierdie aarde gaan regkom sonder haar diep stem, mosselbobotie en malvapoeding, weet ek nie,” sê Nataniel.

Ons groet vandag ’n kos-ikoon, ’n mentor vir baie kosliefhebbers en iemand wat my persoonlik keer op keer geïnspireer het om ruim te kook en om altyd aan jou tafel plek te maak vir gaste.

Topsi, dankie dat jy met kos ons lewe soveel beter en ryker gemaak het!