Inspirasiekos-met-SARIE_Herman-Lensing_3-533x800
Het jy gehoor?

Ons eie Herman deel van land se top-jeug!

Ons toekoms is in die hande van ons jeug – dis hul onkeerbare energie, innovasie en vars idees wat ons weer opgewonde maak oor wat voorlê. Oor wat moontlik is.

Net twee weke terug met Jeugdag het ons Madiba in ons SARIE.com-nuusbrief aangehaal:

Wanneer ek by energieke jong mense is,
voel dit asof ek my batterye herlaai.

Ons kan nie meer saamstem nie!

Om saam te val met Jeugmaand het die koerant Mail & Guardian so pas weer hul jaarlikse publikasie, 200 Young South Africans, uitgegee. Almal jong mense onder die ouderdom van 35 wat in 11 verskillende kategorieë hul merk maak. Is ons opgewonde hieroor? Vir seker, want ons kosredakteur, Herman Lensing, is vanjaar onder dié besonderse groep! Gekies uit meer as 1 000 aanlyn benoemings. Mense soos die komediant Trevor Noah, skrywer Lauren Beukes en Bryan Habana was vorige jare ook al onder die 200.  

Toe Herman in 2009 by SARIE aangestel is, was hy maar 21. ’n Jong man van Upington met sterre in sy oë en ’n onblusbare passie vir kos en om dinge met ’n twist te doen. Nou, 7 jaar later, kan ons SARIE skaars sonder hom voorstel. Met Herman is dinge altyd nuut, vars, anders. Hy was die jongste kosredakteur in SARIE se geskiedenis, maar het sonder twyfel reeds sy unieke merk op die tydskrif gelaat.

Lesers geniet sy resepte maandeliks in SARIE, weekliks op SARIE.com en op ons weeklikse program, Inspirasiekos met SARIE, op VIA (kanaal 147).

Môreoggend om 09:00 kan jy hom volg wanneer hy ciabatta maak vir die kursusgangers by SARIE se eerste Mode-skool – sommer hier in ons kombuis vanuit ons kantoor in Adderleystraat in Kaapstad. Hou ons Facebook-blad dop!