Het jy gehoor?

Ons heupe huil, maar ons kook en geniet

Vandag is Wêreld-vetsugdag en die prentjie vir Suid-Afrikaners lyk nie goed nie. Byna 70% van ons vroue en 40% van ons mans is oorgewig of vetsugtig (obese).

Volgens die Hart-en-beroerte-stigting van SA (HSFSA) verwag hulle dat as ons só aanhou, daar teen 2025 sowat 3,91 miljoen skoolkinders in die land gaan wees wat oorgewig of vetsugtig is.

En die Wêreld-vetsugfederasie (World Obesity Federation) voorspel die volgende syfers vir SA se skoolkinders teen 2025:

• 213 000 kinders sal verminderde glukose-intoleransie hê (’n voorloper vir tipe 2- diabetes)
• 68 000 sal tipe 2-diabetes hê
• 460 000 sal aan hoë bloeddruk ly
• 637 000 sal eerste-fase vetterige lewersiekte

Gister het Healthy Living Alliance ook ’n veldtog afgeskop om mense meer bewus te maak van hul gewig en gesonde eetgewoonte. Hier is hul eerste advertensie wat mooi verduidelik waarom die suiker in koeldrank sleg kan wees vir jou:

Hoe hanteer jy jou oorgewig kind?

Mariza van Zyl, ’n dieetkundige van die Paarl, gee raad.

Hoeveel beweeg julle?

Sit jy en jou man voor die TV met net jul kakebene wat werk? Die kinders sal dieselfde doen. Daar is ’n direkte verband tussen TV’s in slaapkamers en vet kinders. Dis ook die geval by kinders wat meer as twee ure per dag voor ’n skerm sit (TV, rekenaar of selfoon). Dus: Jou hele gesin moet aan die gang kom.

Wat eet en drink julle?

Kitspap, witbrood, witsuiker, witrys? Koop gesonder kos. Dieselfde reëls geld vir volwassenes.

Moenie kos verminder nie, maar gee gesonde kos.

’n Kind van ses se energiebehoeftes is baie dieselfde as ’n volwasse vrou s’n. Jou kind sál dus meer as jy eet. Hul energiebehoeftes verskil na gelang van hul liggaamsbou, groeifase en aktiwiteit. Die piek in seuns se groeifase is om en by 17 of 18 en stabiliseer dan. Meisies s’n is sowat twee jaar vroeër – op 15 of 16. Jou oorgewig kind móét dus eet, maar die regte kos.

Jou hele gesin se eetpatroon moet verander.

Jy kan nie verwag jou vet kind moet lekkergoed vermy en jý eet dit skelm nie. Of jy belet haar Coke, maar haar boeties drink dit steeds nie.

Lekkernye moenie taboe wees nie.

Eet eerder klein porsies en maak beter keuses, sê Mariza.

FOTO World Obesity Federation

FOTO World Obesity Federation

Skool toe

• ’n Goeie ontbyt is byna belangriker as wat sy by die skool eet, anders eet sy alles wat voorkom.

• ’n Gesonde kosblik bevat: Meer kos, maar minder brood. Pak bv. ’n gekookte eier of porsie kouevleis, ’n vrug, rou groente en gesonder vette (grondboontjiebotter, neute) in. Swaar volgraanbrood of rogkraakbeskuitjies met genoeg vulsel is ook ’n goeie keuse. Los die margarien. Gee rosyne, vrugterol of droëperskes vir soetigheid. En een maal per week dalk ’n paar blokkies sjokolade.

• Stel voor sy spaar haar snoepiegeld vir iets wat sy graag wil hê. En as sy wel iets daar koop, net ’n klein pakkie.

• Wees bewus van wat jou kind by die nasorgsentrum eet, vra vrae. Dring daarop aan dat sy nie elke dag verfynde kos soos ’n hot dog kry nie.

Nóg raad

• Dis nooit te vroeg om jou gesin te leer om gesond te eet nie.

• Leef en eet soos jy graag wil hê jou kind moet – stel dus ’n voorbeeld.

• Doen dadelik iets as jy agterkom jou kind se gewig of liggaamsbeeld is vir haar ’n probleem. Kinders sal dit openlik sê of bv. noem dat maats haar spot. Luister na haar, bespreek saam ’n oplossing en kry hulp indien nodig.

• Soms is die tekens meer subtiel: Jy kom dalk agter sy is skaam vir haar liggaam en vermy ’n swembroek.

• Probeer die oorsaak vasstel. Dis nie altyd net verkeerde eetgewoontes nie, daar kan ook mediese of emosionele redes wees.

• Deel inligting met haar oor die aard, oorsake en gevolge van haar probleem. Doen dit op ’n vlak wat sy verstaan.

• Doen navorsing oor die oplossings of kry professionele hulp as jy onseker voel. Verduidelik die oplossing op so ’n manier aan jou kind dat sy die voordele insien.

• Kitsoplossings werk nie en herhaalde mislukkings gaan jou kind net laat glo sy kan nie gehelp word nie.

• Waak daarteen dat alle gesprekke met haar om kos of die verbod daarop draai. Sorg vir balans. Doen lekker dinge saam met haar en gesels ook oor ander dinge as kos. ’n Gelukkige kind wat voel dat jy omgee, in haar belangstel en vir haar lief is, werk beter saam aan enige probleem.

• Maak van kleins af duidelike, konsekwente reëls oor maaltye en snoepgoed. Navorsing wys vetsug kom meer voor in gesinne sonder duidelike gesagstrukture. Dis ook dan moeiliker om die probleem op te los.

• Jou kind eet dalk uit verveling, of omdat kos ’n beloning is, of haar ’n gevoel van beheer gee. Waak van kleins af daarteen om haar met ’n eetdingetjie te beloon as sy soet is. Of om haar te dwing om nóg te eet, al is sy versadig. Sy moet leer om op gereelde tye te eet. En net as sy honger is, nie as beloning of wanneer sy gestres is nie.

*Geneem uit ’n artikel deur Lydia van die Merwe, gepubliseer in die April 2013-uitgawe van SARIE

Bronne: IOL, Daily Maverick

Lees ook

Ons vet kinders – Is ‘bant’ die oplossing?

Raadop met my oorgewig kind …