beate

Die verloofde paartjie Beáte Olwagen en John-Henry Opperman. FOTO: Phyllis Green STILERING: Fanie Cronjé

Het jy gehoor?

Ons werk & speel saam – bekende pare praat DEEL 2

Om saam met jou geliefde te werk is nie net maneskyn en rose nie – daar is ook baie uitdagings. Maar as jy dit reg hanteer, is dit ’n groot bonus, sê bekende pare.

‘Die grootste voor- en nadeel is dat ons mekaar so goed ken’

John-Henry Opperman en Beáte Olwagen

Dié twee mede-aanbieders van SleepTV op kykNET het onlangs verloof geraak nadat hulle mekaar agt jaar gelede ontmoet het. Albei het rolle in die dramareeks Donkerland en die fliek Roepman vertolk. Beáte was ook in die fliek Verraaiers terwyl John- Henry agter die skerms betrokke was. Hy vervaardig korporatiewe video’s, en Beáte doen die stemwerk.

Wanneer ons aan verskillende projekte werk, kan ons dagboek maklik min tyd vir mekaar toelaat,” sê John-Henry. “As ons wel saam aan ’n projek werk, is dit lekker om die magic te deel. Soos met die verfilming van SleepTV, toe ons saam al die mooi plekke, interessante mense en eienaardige omstandighede kon ervaar.”

Maar moenie dink hul verhouding is perfek omdat TV dit so laat lyk nie.

“’n Goed afgeronde produksie verg baie werk. Daarom is dit nodig om dinge – soms hittig! – uit te klaar as jy die monster wil tem,” beduie Beáte.

Hul goue reël? Wees professioneel. Respekteer (en hê deernis) vir elkeen se rol.

“Ek herinner myself dat ons saam op televisie is omdat ons bekwaam is. Ek weet Beáte is goed in wat sy doen. Ek respekteer en leer baie by haar. Dit help enige kwelpunte uitstryk,” sê John-Henry.

Die grootste uitdaging volgens hulle is dat jy nie ná ’n lang dag by jou maat kan toevlug soek nie, want sy/hy het dieselfde dag gehad en benodig dieselfde toevlug!

“En moenie dink jy kan jou slegte bui of irritasie wegsteek nie,” skerts Beáte. “Die grootste voor- én nadeel is dat julle mekaar so goed ken.”

“Sy ken my so goed, ek kan nie eens vir ’n oomblik dink ek kan my emosies  verdoesel nie,” erken John-Henry. “Gelukkig het ons nog bitter min werkverwante argumente gehad, want ons laat nie toe dat werk ons verhouding knou nie.”

Dit was vir hulle moeiliker toe Beáte ’n ruk lank as deel van ’n span vermaaklikheidskunstenaars op ’n skip gewerk het as aanbieder van temaaande, dansklasse, sportaktiwiteite en speletjies.

“Maar in ons agt jaar saam het ons mekaar nog nooit teruggehou nie. Ons ondersteun mekaar altyd,” sê sy.

Hulle het albei ander belangstellings ook en gee altyd 100% van hulself, “of dit nou vir werk, speel, saamwees of alleen-wees is”.

Saam werk maak kommunikasie makliker, sê John-Henry. “Daar is nie soveel ruimte vir misverstande nie, juis omdat ons mekaar goed ken. Ek kan byvoorbeeld haar voorkeure in ag neem en vroegtydig voorkom dat dinge wat ek weet haar sou pla, in ’n stryery ontaard.”

In DEEL 1 van Ons werk & speel saam gesels akteurspaar Zetske van Pletzen en Altus Theart oor hul huwelik en hul loopbane.

*Dit klink idillies. Julle is verlief en is ’n hegte span. En nou is julle nog boonop so gelukkig om saam te werk…

Daar is baie voordele verbonde aan saam werk, beaam Hein Brand, bedryfsielkundige aan die Universiteit van Pretoria.

Elke dag leer julle mekaar op werk- én persoonlike vlak beter ken. Elke week is ’n nuwe geleentheid om jul verhouding te versterk.

“Deur saam te werk leer jy jou maat se behoeftes, ideale, verhouding met base en

kollegas, hantering van konflik en druk, etiese werksgedrag en persoonlike integriteit beter ken,” sê hy.

Maar daar is ook slaggate as jy dag én nag in mekaar se geselskap is.

“Gewone werksomstandighede het reeds sy uitdagings. Dit kan soveel meer persoonlik raak as julle boonop in ’n verhouding is. Dis dalk vir julle moeilik om saam te werk in ’n span of onder knap spertye. Boonop het julle elkeen jul eie  loopbaanaspirasies, en as dit lei tot mededinging, pleks dat jou geliefde jou drome ondersteun, kan dit spanning en konflik in jul verhouding veroorsaak.

“Wees bewus van sulke moontlike struikelblokke en wees bereid om dit te hanteer. Leer in die proses mekaar se goeie én slegte eienskappe goed ken en aanvaar dit. Volwassenheid in ’n verhouding is belangrik en gee paartjies ’n beter kans op sukses.”