161441067
Het jy gehoor?

Oprah, Angelina, Beyoncé onder die 100 magtigste vroue

Heel bo-aan die lys is die politieke swaargewig Angela Merkel, bondskanselier van Duitsland. Maar ‘n hele paar name uit die mode- en vermaaklikheidswêreld tel ook onder die wêreld se “magtigstes”. En dis nie net danksy hul skoonheid en sterstatus nie.

Dis byvoorbeeld haar werk buite die vermaaklikheidswêreld wat maak dat ’n ster soos Angelina Jolie onder een van die 100 magtigste vroue ter wêreld gereken word.

Angelina Jolie

Ander celebs op die lys is die kletskoningin Oprah, onder meer die hoof van Harpo Productions én die stigter van die Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls in Suid-Afrika. Die sangeres Shakira is ‘n UNICEF-ambassadeur en sy het die Barefoot-stigting, wat geld vir kinderontwikkeling insamel, tot stand gebring.

OprahGisele

Die 32-jarige model Gisele Bündchen het ook dié lys gehaal omdat sy onder meer ‘n ambassadeur is vir die VN se omgewingsprogram. Beyoncé (wie se man, Jay-Z, die gerugte ontken het dat sy swanger is) is aan die stuur van die Beyoncé-handelsmerk, wat van haar nie net ‘n vermaaklikheidster maak nie, maar ook ‘n sakevrou. Die komediant Sofía Vergara (Modern Family) is ‘n entrepreneur met haar eie klerereeks. Sy is ook die medestigter van Latin WE, ‘n talentmaatskappy.

Vroue in die modebedryf het ook dié lys gehaal. Onder hulle is Miuccia Prada, die eienaar en ontwerper van Prada; Rosalía Mera van Zara en die legendariese ontwerper Diane von Fürstenberg.

Die Amerikaanse presidentsvrou, Michelle Obama, is nommer 4 op die lys. Die redakteur van Vogue, Anna Wintour, beklee die 41ste posisie.

Dit is die tiende jaar dat Forbes die lys opstel, en daar is 15 vroue wat al die afgelope dekade jaarliks die lys haal. Hulle is: Oprah; Hillary Clinton; Christine Lagarde van die Internasionale Monetêre Fonds; Sonia Gandhi (Indiese politikus); Indra Nooyi, hoofuitvoerende beampte (HUB) van Pepsi; Helen Clark (VN); Nancy Pelosi (Amerikaanse politikus); Anne Sweeney (Disney); Amy Pascal (Sony); koningin Elizabeth II; Abigail Johnson (‘n Amerikaanse grootkop in die beleggingswêreld); Ho Ching (HUB Temasek); die nuuslesers Diane Sawyer en Greta Van Susteren; en die skrywer J.K. Rowling.

Sien die volledige lys van die honderd magtigste vroue hier.