the_devil_wears_prada
Het jy gehoor?

Opvolg van The Devil Wears Prada op pad

Dis 8 jaar later en Andy Sachs (die assistent gespeel deur Anne Hathaway) is nou die redakteur van ‘n bruidstydskrif, The Plunge, en haar paaie kruis weer met dié van haar ou baas, die redakteur van die modetydskrif Runway, Miranda Priestly (Meryl Streep).

Andy se vyand in die eerste fliek, Emily, werk saam met haar by The Plunge en is nou haar beste vriendin.

HarperCollins gaan die boek uitgee en HarperFiction se hoofuitgewer, Lynne Drew, sê: “Ek is opgewonde om met hierdie boek wéér die wêreld van glanstydskrifte, Miranda Priestly en ons gunsteling-heldin te betree. Dit gaan een van 2013 se grootste boeke in die somerseisoen wees.”

Het jy geweet?
Die eerste boek was vir langer as ‘n jaar op die New York Times se topverkoperlys, en die fliek het in 2006 meer as R2 miljard gemaak. Meryl Streep het ook ‘n Oscar-benoeming vir haar rol as Miranda gekry, een wat glo fiktief geskoei is op Anna Wintour, Vogue se redakteur. (Die skrywer was, terloops, ‘n assistent by die einste tydskrif.)