Oscar in die Februarie 2013-uitgawe van SARIE FOTO Leana Clunies-Ross

Het jy gehoor?

Oscar Pistorius hofsaak: Só het joernalis Mia Slabbert dit ervaar

Die Oscar Pistorius-hofsaak word beskou as die grootste in die SA regsgeskiedenis. Die wêreldmedia het op SA toegesak en gestoei vir ’n vars blik op die tragedie. Op sosiale media was almal skielik pseudoregsgeleerdes. Maar wat sê die joernaliste wat dáár, in hof GD in Pretoria, was? En al die drama en emosie eerstehands beleef het.

Mia Slabbert, verslaggewer by radiostasie GROOTFM 90.5 in Pretoria vertel haar storie

FOTO: Hanneri de Wet / Lééf - met hart & siel

FOTO: Hanneri de Wet / Lééf – met hart & siel

Valentynsdag 2013. Sesuur in die oggend. As deel van ’n promosieveldtog vir “Proudly South Africa” deel ek blomme en sjokolade aan motoriste by die Fonteine-sirkel in Pretoria uit. Daar is fotosessies saam met die voormalige Mej. Suid-Afrika, Melinda Bam, en ander mense. In ’n stadium sien ek ek het ses oproepe op my selfoon gemis. Dis my redakteur. “Oscar Pistorius het sy meisie doodgeskiet.” Dit voel of ’n emmer yswater oor my omgekeer word.

Op 3 Maart vanjaar begin die verhoor. Die grootste hofsaak in Suid-Afrika se regsgeskiedenis – en op 27 is ek deel daarvan. Ek sal jok as ek sê ek was nie effens senuweeagtig nie. Want ons – die Suid-Afrikaanse media – sou ons man moes staan teen hardebaard buitelandse joernaliste met tegnologie wat jou mond laat oophang.

In die hofsaal sit ek direk agter Oscar Pistorius en die Pistorius-familie. Ek kan later met toe oë die agterkant van Oscar se kop, met die twee prominente ligte kolle, teken. Reeva Steenkamp se ma, June, en haar ondersteuners se sitplekke is aan die anderkant van die openbare galery.

Voor die verhoor het ek niks van die Pistorius-familie geweet nie. Maar gou gesels ons gereeld oor ditjies en datjies. Lois Pistorius,  Oscar se oom Arnold se vrou, vertel my byvoorbeeld van nuwe pienkvoete wat hul opwagting in die Pistorius-familie gemaak het. Bondeltjies hoop te midde van al die donkerte. Dit begin later voel asof ek hulle ken. Hoewel ek vir hulle seker net een van die massas joernaliste is.

Daar is talle verrassings in die hofsaak en emosies ry wipplank. Maar twee dinge bly dieselfde: Die families voor my wie se lewens nooit weer dieselfde gaan wees nie. Al is net Reeva dood, het ons land twee talentvolle jong mense verloor. Want Oscar se loopbaan, sy lewe, lê aan skerwe.

In die verhoor se derde week vind ek uit ek is vyf weke swanger. My grootste uitdaging is nou om nie self in die hof (waarop die wêreld se oë gerig is) naar te word as Oscar sy (nou bekende) groen emmer nader trek nie.

Ek moet telkens badkamer toe gaan en stilte opsoek om June Steenkamp, Aimée Pistorius en Oscar se hartseer te verwerk. Nie dat daar baie tyd vir sulke oomblikke is nie. Ek moet die nuutste verwikkelinge in die verhoor byna elke uur regstreeks op GROOTFM uitsaai. The show must go on.

Veral Aimée en June het my emosioneel laat wankel. Ek het drie broers vir wie ek baie lief is. En ek kan my indink waardeur Aimée moet gaan. Elke keer as ek vir June sien, dink ek aan die nuwe lewe wat ek in my saamdra. En my hart wil in stukke breek.

Al wat leef en beef wil weet wat ek van die saak dink. Is Oscar skuldig? In dié saak durf jy nie kant kies nie. Daar is geen wenner nie. Niemand gaan by die hof uitstap met ’n glimlag op sy gesig nie. Wat ook al die vonnis, Oscar gaan altyd die gevolge van sy daad saam met hom dra. En June en Barry Steenkamp se beeldskone, glimlaggende dogter is vir altyd weg.

Tydens die hofsaak het emosies my feitlik elke dag onkant gevang. Maar ek glo jy moet dit toelaat. Sodat jy as mens, en nie harde joernalis nie, die hart van die storie aan die mense daarbuite kan oorvertel.

Oscar en Reeva se liefdesverhaal en die tragiese einde bly ’n hartseer storie. Ongeag wie se weergawe jy glo.

Mia twiet

November 2014 andrea streso nov

 

Lees ook hoe het joernalis en skrywer van Die Staat vs. Oscar* Marida Fitzpatrick dié saak ervaar het – net in die November-uitgawe van SARIE.

 

 

*Jonathan Ball-uitgewers, R200 (sagteband), R140 (e-boek)