Oscar in die Februarie 2013-uitgawe van SARIE FOTO Leana Clunies-Ross

Het jy gehoor?

Oscar se pa se brief aan hom

SARIE het dié brief as deel van ’n uittreksel van Oscar se biografie* eksklusief in ons Junie 2009-uitgawe gepubliseer.

Dít is wat Oscar se pa destyds vir hom wou sê …

Liewe Oscar

My seun, in hierdie dae volg ek jou doen en late op televisie.  Dis baie mooi oomblikke vir ’n pa en my hoop is dat ook jy eendag sulke vreugde kan smaak.

***
Toe Sheila hospitaal toe is, het die dokter gevra: “En wat verkies jy, ’n seun of ’n dogter? ”My antwoord was: “Dit kan my nie skeel nie, solank die baba net al sy vingers en tone het.”

Die noodlot kan soms ironies wees . . . Nie die dokter of die vroedvrou het dadelik agtergekom dat daar iets met jou voete skeel nie. Ek was die eerste wat dit opgemerk het, onmiddellik ná jou geboorte. Ek het jou by die vroedvrou geneem en in my arms gehou terwyl die koord gesny is. Ek het vir die dokter gesê: “Daar is iets anders aan sy voetjies.” Ek het nie gesê “daar is iets verkeerd” nie, net dat dit vir my anders lyk. En toe ons die kombersie toemaak en weer na jou voetjies gekyk het, het ek vasgestel dat een van die twee baie dunner as die ander was.

Wat ek daardie oomblik gedink het, is presies wat ek steeds vandag dink. Wanneer iets anders as wat jy verwag met jou gebeur – onthou ek gebruik nie die woorde “normaal” of “abnormaal”nie – moet jy altyd onthou dat daar ook ’n positiewe kant is, ’n ander kant van die medalje. Jy moet dit soek en daarop konsentreer.

***
(’n Plaaslike spesialis, Gerry Versveld, het Oscar se geval voorgelê aan die organiseerders van ’n konferensie in Amerika, en so het meer as 300 medici, die beste in die wêreld, daaraan aandag gegee.) Almal het saamgestem dat albei bene geamputeer moes word. Ons kon nie meer kop uittrek nie. Ons het geweet dat ons alles in ons vermoë gedoen het. Maar die moeilikste deel het steeds op ons gewag.

Gerry het voorgestel dat die amputasie so gou moontlik moet plaasvind, voordat jy begin loop, sodat jy nooit sou weet hoe dit voel om op jou voete te trap nie, en so sou jy die trauma gespaar bly om nie die verlies daarvan te ervaar nie. Hy het aan ons verduidelik wat die operasie sou behels: Dat dit onder die knieë gedoen sou word, dat die dik hakskeenvel oorgeplant sou word op die stompies, sodat dit meer weerstand kan bied en die gewig van die lyf en die wrywing van die kunsbene beter sou dra. Ons
het al die besonderhede uit hom getrek. Ek verseker jou, my seun, dit was ’n skrikwekkende saak. Jy het hierdie klein, delikate voetjies gehad en soos alle klein kindertjies kon jy dit nie verduur om onder jou voetjies gekielie te word nie. Wanneer jy op die bed gelê het en ons met jou gespeel het, het jy gelag en gelag. Die gedagte dat jou voetjies en beentjies afgesny – en weggegooi – moes word, was ’n nagmerrie wat ek geen ouer toewens nie. Dank die Hemel, die operasie het goed verloop en jy het vinnig gevorder. Jou eerste kunsbeentjies het nie voete gehad nie: Dit het net soos die houtbene van die seerowers in flieks gelyk! Jy het altyd gehardloop, jy kon nooit stilsit nie en deur die hele huis het die tik-tak-tik-tak van jou kunsbene op die vloer weergalm.

***
Ek was strenger met jou as met Carl, om die eenvoudige rede dat jy meer probleme op jou toekomspad sou hê: Jy sou wrede mense en kinders in die skool en op ander plekke aantref. Ek sou nie altyd daar wees om jou te help nie; jy moes leer om alleen die mas op te kom. Toe jy klein was, het ek net toegekyk wanneer iets met jou gebeur, maar jy het geweet dat ek saans met jou daaroor sou gesels.

Soms sou jy vertel dat So-en-so op ’n verkeerde manier teenoor jou opgetree het. Dan sou ek verduidelik dat daardie outjie nie jou situasie verstaan nie en dat jy dit aan hom moet verduidelik. Ek hoop dat dit een van die redes is waarom jy later met almal oor die weg gekom het. Jou ma was nie lank ná die operasie nie weer swanger.

Jy en Carl het soos twee bye om haar gedraai, haar maag gevryf en gevoel hoe die baba skop. En toe Aimée gebore is, was jy so verbaas: “Kyk, sy het voete!” Wanneer sy in haar wiegie gelê het, het jy die kombersie opgetel en haar gegroet met ’n naam wat jyself uitgedink het: “Hallo,Gugu,” en dan het jy die voetjies gesoen en gesoen. En elke keer het Aimée wakker geword en begin huil. Dit het Ma baie kwaad gemaak, want nadat sy gesukkel het om die baba te laat slaap, het jy haar wakker gemaak! Jy was maar altyd so, maar dit het uit jou hart gekom en ons het dit nooit as stout vertolk nie. Ons het verstaan dat jy nuuskierig was en ons het jou laat begaan. Ons het dit baie bespreek en jou “die Oscar Pistorius-model” genoem en dit is soos dit is. Oscar is so, hy is so gebore en ons moet hom so aanvaar en laat begaan sonder om te probeer om hom te verander.

***
Jy het, te danke aan die Here, altyd en oral op jou gemak gevoel, jy was altyd trots op wie jy is. Alles was vir jou logies en natuurlik, ook toe jy jou eerste kunsbene gekry het. Dit was splinternuut, maar ná ’n dag het dit gelyk asof jy dit reeds twee maande gebruik het, want jy het orals gehardloop, geval, gestamp – toe na ons gekom met daardie stout glimlag van jou en gespog: “Kyk, ek het blou kolle op my bene.” Jou glimlag, my seun, het steeds dieselfde gebly, soos ook jou sielekrag en jou vrolikheid. My hoop en hartewens is dat daardie glimlag net so sal bly, en dat jou blink en helder oë orals nuwe uitdagings, oor alle grense heen, sal waarneem. Dat jy dit sal aanpak en oorwin.
 

Pappa

*Dié uittreksel kom uit sy biografie Oscar wat by Umuzi / Random House Struik verskyn het.