FOTO Instagram /@aplenorugby

FOTO Instagram /@aplenorugby

Het jy gehoor?

Oud-breier Heyneke Meyer hou sy lyf akteur

Sallas de Jager, regisseur van die fliek Jonathan: Die movie, kan nie uitgepraat raak oor hoe nederig en menslik die voormaligeSpringbok-breier Heyneke Meyer, wat ook in dié fliek speel, is nie.

“Dit was ’n belewenis om saam met hom te werk. Hy het die gawe om almal goed te laat voel. Van die tegniese span tot die ekstras en gesoute akteurs soos Rika Sennett, Paul Eilers en Eric Nobbs. Aan die einde van die shoot wou almal saam met hom afgeneem word en ons het hom coach genoem. Hy is ’n maklike, aanpasbare mens,’’ vertel Sallas.

Dié komiese fliek gaan oor Jonathan, wat by sy ouers woon en uitgeskop word nadat hy droogmaak.

“Jonathan (vertolk deur Rikus de Beer van Radio Raps-faam) word dan ’n motorwag en wen later die Lotto. Rugby speel ’n groot rol in sy lewe. Ons wou aanvanklik ’n rugbyspeler in Heyneke se rol inspan, maar besluit toe dit sal beter werk om ’n afrigter te gebruik. Heyneke speel homself as beoordelaar in ’n kroegkompetisie vir grapjasse,” vertel Sallas.

Dié fliek lei ’n ander era vir Sallas in. Hy is veral bekend vir ernstige rolprente soos Roepman (wat selfs by Cannes se rolprentfees vertoon is) en Free State, wat hy geskryf en geregisseer het.

In Jonathan: Die movie, vertel hy, was dit ’n bonus dat Heyneke en sy seuns groot fans van Radio Raps is. “Hy het hulle ook saamgebring na die filmstel. Dit was ’n soort pa-seun-dag.’’

FOTO Facebook / @radioraps

FOTO Facebook / @radioraps

Sallas reken dit is nogal “traumaties’’ om ’n Springbokafrigter te wees. “Jy kry so baie kritiek en om daarna soos Heyneke anderkant uit te kom – dís inspirerend.’’

Sallas is opgewonde oor dié rolprent, die eerste van ’n trilogie.

“Jonathan ontmoet in die eerste movie ’n meisie, in die tweede een trou hy en in nommer drie kry hulle kinders. Vroeër was ek bang om my hand aan komedie te waag. Dit is ’n ongenaakbare medium, sonder grys areas, maar dit was amazing om hieraan te werk. Dit is asof dinge net van nature gevloei het. Die publiek kan uitsien na ’n lekker lag … En Rikus is iemand om dop te hou. Sy aanvoeling vir komiese tydsberekening is briljant.’’

- Jonathan: Die movie is vanaf 2 Desember te sien.