lynne0120081012_0013-570x760
Het jy gehoor?

Almal praat oor: Everest

“Hoogtesiekte het my byna geknak. Al betaal hulle my al die geld in die wêreld, sal ek nooit weer Kilimandjaro uitklim nie. Of eers Everest probeer nie,’’ sê die sangeres Patricia Lewis.

En sy wéét waarvan sy praat … Patricia en Nataniël het Kilimandjaro, die hoogste piek in Afrika, in 2002 verower. SARIE.com het haar vandag uitgevra oor haar eie hoogtesiekte nadat ‘n SA gebore bergklimmer dié naweek weens hoogtesiekte op Everest omgekom het.

Patricia se hart gaan uit na die familie van die Suid-Afrikaans gebore Australiër Maria Strydom (34) wat die naweek op Everest dood is. Sy het Kamp IV, die finale kamp voor die kruin, bereik. Verlede week is ’n lid van die Seven Summit Treks, Phurba Sherpa, ook dood toe hy 150 meter na benede gestort het. En die Nederlander Eric Arnold (36) het Vrydagaand op pad af, ná hy die piek van Everest bereik het, gesterf, vermoedelik aan ’n hartaanval.

Volgens Wikipedia staan hoogtesiekte ook bekend as akute bergsiekte. Dit kan gebeur as jy styg tot sowat 2 400 meter en hoër. Jou  brein bou baie drukking op weens waterretensie en jy kan dan nie genoeg suurstof kry nie.

“Hoogtesiekte is iets verskrikliks,” sê Patricia, “Jy kry erge hoofpyn, is duiselig, naar en energieloos. Ek wou net sit. En my gesig, vingers, hande en enkels het opgeswel. Dit was byna erger op pad af as op. Ek het handevol Panado’s ge-pop om die pyn te probeer keer.’’ Haar en Nataniël se Kili-tog het ses dae geduur. “Maar teen die vierde dag het die hoogtesiekte my beetgekry. As ek vooraf geweet het hoe erg dit was, sou ek dit nooit aangepak het nie.’’

FOTO Mnet

FOTO M-Net

Everest is vir seker ’n natuurwonder wat gesag afdwing. Dis die aarde se hoogste bergpiek (8 848 m). Die Tibettaanse naam is Chomolungma (“moedergodin van die wêreld”). In Nepal staan dit bekend as Sagarmatha, “voorkop van die lug”.

Mandy Ramsden, ’n enkelma van Johannesburg, was die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat elk van die sewe kontinente se hoogste bergkruine – ook Everest in Mei 2010 – bereik het.

Dit het tien geweke geduur voor sy die kruin op 22 Mei bereik het vanweë die lang tye wat sy moes wag om te akklimatiseer.

“Everest was nie my mees tegniese klim nie, eerder die Denali-berg (6 190m) in Noord-Amerika. Dít is bar en jy moet gehard wees om jou ding te doen. Ek het eintlik verwag Everest gaan veel moeiliker wees!’’ Mandy dink elke jaar met groot dankbaarheid terug aan 22 Mei. “Dit was ’n helder skonskyndag toe ek die piek bereik het, ’n lieflike ervaring. Ek was nooit bang nie, ek het net elke dag vorentoe gegaan …’’

Sy reken uithouvermoë onderskei die goeie van die slegte klimmers. “Ek het dít maar eers geleer toe ek begin draf het om gewig te verloor ná ek kinders gehad het. (Sy het al onder meer die Comrades- en Twee Oseane-wedlope voltooi.) Eintlik is ek maar lui, en fisiek ook baie middelmatig gebou. Ek is nie sterk nie, maar draf het my onder meer geleer hoe om uit te hou.” En ja, om ma van vier te wees, ook. “Kinders leer jou vasbyt,’’ sê dié enkelma.

Lynne Hanna, uitvoerende hoof van die skoonheidshuis Clarins in Suid-Afrika, het pas Everest vir die derde keer suksesvol uitgeklim. Die tweede keer het sy die hoogste punt bereik. In Februarie 2014 het sy in ’n artikel in SARIE gesê: “Mense sê gereeld: ‘Jy sal dit nie kan doen nie.’ Ek bewys hulle verkeerd. Jy moet net gefokus bly en in jouself glo.’’ Dit was een van haar  grootste hoogtepunte toe sy en haar man, Noel (’n avonturier wat haar ook aan uithou-wedlope blootgestel het), die berg oorwin het. (Daar) is jou longkapasiteit maar 30% in vergelyking met die 100% op seevlak.’’ Hallusinasies en vriesbrand is enkele dinge waarop sy haar voor die klim probeer voorberei het. Maar die groot ding, vertel sy en ander “oorwinnaars’’, is dat jou kop moet hóú.

Clarins se Lynne bereik Everest-piek 

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

Vir seker, meen Deshun Deysel, die eerste swart vrou uit Afrika wat die piek (in 1996 en 2003) aangedurf het. In 2003 het sy gevorder tot op sowat 500 meter van die kruin. “Ons moes omdraai weens ’n storm. Ek was nog nooit heel bo nie, maar ek gaan dit hopelik nog bereik. Op die oomblik vereis my onderneming en kinders, Edward (7) en Judith (2), al my aandag.’’

Deshun was nooit bang om dood te gaan as sy bergklim nie. “Elke sport het sy gevare. Dít is een van bergklim se realiteite. Maar ’n mens kan op Tafelberg of die Drakensberg ook sterf as ’n erge mis daaroor sak en jy niks voor jou kan sien nie.

“Everest verg 99 persent geestelike en 1 persent fisieke voorbereiding. Jy moet topfiks wees. Vir die sielkundige voorbereiding het ek selfs ’n motiveringsafrigter vooraf besoek. Ons het my reaksie op allerlei scenario’s gevisualiseer – hoe ek byvoorbeeld sou reageer as ek val, wat dikwels op die berg kan gebeur.’’

Sy wou nog altyd dinge eerstehands beleef en het al ge-bungee, valskerm gespring, selfs rap-jumping (bietjie soos abseil, maar jy ‘hardloop’ vorentoe teen die gebou af) gedoen. “Ek neem graag risiko’s en doen gek goed. Dit het my al dikwels in die moeilikheid gekry, maar ek is nuuskierig, ek wil die lewe soos ’n kind ervaar en verwonderd bly,’’ vertel sy.

Deshun sê sy is ’n metodiese klimmer. “Ek het al byna hoogtesiekte gekry, maar ek het ná jare se bergklim geleer hoe om na my liggaam te luister. As ek ’n hoofpyn kry wat nie ‘normaal’ is nie, besef ek hoe belangrik dit is om eers te akklimatiseer voor ek verder gaan. As jy jou liggaam reg lees, en ook leer hoe om jou tyd en energie reg te bestuur, is die stryd half gewonne.’’

Sy verduidelik:  “As jy by die basiskamp is, fokus op jou tyd dáár, moenie jouself moeg maak met wat twee dae later op die berg kan gebeur nie.’’ Een tree op ’n slag.

’n Borskanker-oorlewende, Henrietta van Kramberg (sy is ’n IT-kenner in Johannesburg), het op 25 April, saam met nóg ’n Suid-Afrikaner, Refilwe Sedumedi (van Johannesburg) ’n twaalf dae lange trek na die Everest-basiskamp voltooi.

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

“Drie van die ander klimmers moes onttrek. Ons groep wou mense bewus maak van lewe ná borskanker en die Borsgesondheidstigting, wat duisende vroue en mans bystaan,’’ vertel sy.

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

Sy sê dié avontuur het haar opnuut gewys hoe sterk sy geestelik is. “Ek is slegs 1,52 m lank en weeg 50 kg, maar ek is baie sterk. My seuntjie, Imani, is agt jaar gelede aan breinvliesontsteking dood. Ek het gedink as ek nie toe van hartseer sterf nie, kan ek enigiets oorwin. Ek het sedertdien elke dag gekies om te lewe. Toe borskanker in 2010 by my gediagnoseer is, het ek vasgebyt. Ons het almal verskillende soorte Everest-pieke in ons lewe. Ek is nou in remissie. En ek sien kans om die régte piek van Everest ook uit te klim.’’

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf