FOTO Instagram (@paulie_du_toit)

FOTO Instagram (@paulie_du_toit)

Het jy gehoor?

Paul du Toit op steroids in nuwe show

Die stoute Malan Koster (Paul du Toit), wat in 2009 die kykNET-sepie Binnelanders verlaat het, het verlede week sy buiging gemaak as Hedwig in die rockvertoning Hedwig and the Angry Inch in Kaapstad, wat bestempel word as ’n soort “Rocky Horror on Steroids”.

Paul is ook onlangs as Franco in die SABC2-sepie 7de Laan gesien. En op die pas afgelope kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, waar die room van Afrikaanse rolprente gewys is, het hy kykers vermaak in Noem my Skollie (wat nou in rolprentteaters draai) en die kortfilm Die Biker.

“My werk is ’n avontuur. Ek is betrokke by verskeie internasionale en plaaslike produksies in Engels en Afrikaans, die lewe is goed.”

Hy speel van 25 April tot 20 Mei aanstaande jaar met die bekroonde aktrise Tinarie van Wyk-Loots in Hemelruim by die Fugard-teater. “En daar is baie opwindende projekte in die pyplyn, maar ek mag nog niks verklap nie.”

FOTO: KKNK-program

FOTO KKNK-program

In Hedwig and the Angry Inch, waarvan hy al die afgelope vyftien jaar ’n aanhanger is, speel hy die rolle van Hedwig, Luther, Hedwig se ma én Tommy. “Die play is hoofsaaklik ’n monoloog, met liedjies in die styl van die laat tagtigs – punk rock van Lou Reed, Iggy Pop, David Bowie – musiek waarmee ek grootgeword het en dit is wonderlik om te sing. Die musiek is baie uitdagend en kan jou stem martel. Ek het baie van die tonele oorgeskryf om die toneelstuk in ’n Suid-Afrikaanse konteks te plaas en meer toeganklik en relevant vir plaaslike gehore te maak.”

Hedwig 7

FOTO Verskaf

Hedwig 8

FOTO Verskaf

Dié gebore Kapenaar is baie gelukkig dat hy en sy gesin weer terug is in die Moederstad.

“Ek en my vrou, Clair, en twee kinders, Josh en Oli, woon aan die voet van Tafelberg langs die Tokai-woud en geniet die natuurskoon en strand naby ons. Ons het die afgelope drie jaar so stuk-stuk uit Johannesburg Kaap toe getrek. Albei kinders kan al op hul branderplanke staan, so ek dink ons doen iets reg.” Die einde van die jaar gaan hulle na ’n klein kusdorpie trek, waar die kinders met hul fietse op die grondpad kan ry. “Ons soek die stilte en die saligheid. Dit is ’n groot voorreg vir ’n kind om op die platteland groot te word.”

Paul is ’n waterwese, wat ook graag onspan in die see – branderplankry, swem, duik, kajak. “Die see is waar die stemme in my kop ophou raas.”

Hy is mal oor Afrikaans. “Afrikaans het ’n musikaliteit wat aan jou ingewande gryp. Luister net na hoe ’n bergie vloek om te verstaan … My gunsteling- Afrikaanse woord is booswig.”

Sy beste lewensles? Nes Suid-Afrika se gholflegende, Gary Player, glo hy: “The harder I practice, the luckier I get.”

Te oordeel na die magdom dinge wat hy doen, oefen hy genoeg …

En ná die guitige “Hedwig” ge-ruk-en-rol het, wag daar sekerlik ’n hele paar flieks, sepies en TV-reekse op Paul!

Lees nou

Heinz en Aletté-Johanni trou weer

Nirvana-baba herskep ikoniese foto

Bekendes met ’n onvolmaakte glimlag