Het jy gehoor?

Paula se laaste aand op die kassie

Gisteraand het SA een van sy gewildste sepie-karakters van die afgelope 13 jaar gegroet. En nie net was dit hartseer vir die kykers nie; vir aktrise Diaan Lawrenson wat die rol van Paula van der Lecq vertolk het, was die laaste episode ’n emosionele saak.

“Ek het gisteraand eintlik gekyk en ek was emosioneel. Dis ’n groot deel van my lewe. Die performance was ook nie te sleg nie.

Ek is trots op my tyd by die Laan. En ek voel al die kykers se liefde en goeie wense. Dis oorweldigend. Dankbaar en blessed.”

- Diaan Lawrenson aan SARIE.com

Paula het in gisteraand se episode ’n emosionele boodskap via ’n vlog (video-blog) aan haar vriende in die Laan gestuur:

7de Laan-kykers en aanhangers van Paula het sosiale media gebruik om hul hartseer oor haar weggaan te deel.

Rayzeam Hendricks: So, tot dan Toodles. Toodles Pollie. Ons gaan jóú mis.

Valerie van der Westhuizen het op Facebook geskryf: I know it’s just a story, but “Paula” has been part of my every evening. I cried tonight like I was saying goodbye to my best friend. My puppy dog was even licking my tears as I cried.

Megan Davie: Vandat ek 7de Laan begin kyk het, was jy my rolmodel… Jy het my amper in trane gehad omdat jy uitgaan, jy gaan definitief gemis wordMaar baie sterkte vir die toekoms & mag dit die beste jare vorentoe vir jou wees*!!

Annie Wilters Tromp: Wat ’n hartseer-oomblik. Paula is my 3-jarige se gunsteling-karakter in 7de Laan. Toe Paula huil, is haar woordjies: “Ai, tannie Paula, moenie weggaan nie”.

Diaan het haar besluit om 7de Laan te verlaat eksklusief in SARIE se Mei-uitgawe met lesers gedeel.

“Dit [die besluit om 7de Laan te verlaat] was eintlik ’n baie spontane besluit. Ek het net besef dit werk nie meer vir ons gesin nie, en dinge moet verander. Ja, dit pla al lankal dat ek nie my kinders genoeg sien nie. In enige werk moet jy tyd hê vir dít wat vir jou persoonlik belangrik is. Anders verloor jy perspektief. Maar die besluit om te loop was nie soseer ’n besluit as ’n moet nie.”

Dit was dalk ’n skielike besluit, maar maklik was dit beslis nie, sê sy. “Ek en Jody [Abrahams, haar man] het nog altyd ons eie projekte, drome en doelwitte, maar ek het nog nooit gevoel ek moet kies tussen dit en die Laan nie. Ek kan seker sê, jissie, ek het dertien jaar baie hard gewerk daar, en eintlik het ek langer ure gewerk vandat my kinders gebore is. Maar ek voel nie te na gekom nie – ons prioriteite en doelwitte het eenvoudig verander.”

Diaan en Jody het intussen Kaap toe getrek.

“Ek wil nie fokus op wat ek alles gaan mis nie. Ek wil vorentoe kyk. Dis ’n groot skuif, en dis baie emosioneel, maar dit maak ook deure oop.”

* Lees ons volledige onderhoud met Diaan in ons digitale Mei-uitgawe. Diaan was deur die jare al 9 keer op SARIE se voorblad. Sê vir ons watter een is jóú gunsteling.

Lees nou

EKSKLUSIEF: Paula van 7de Laan se baba

Diaan Lawrenson verlaat 7de Laan

7de Laan kry nuwe tydgleuf