Het jy gehoor?

Pedro Kruger maak kinderteater professioneel

Pedro Kruger glo nog altyd kinders verdien ook om professionele teaterstukke te kyk. Toe bring hy self ’n nuwe, professionele kinderteaterproduksie op die planke …

Nico Scheepers en Hennie van Greunen het die teks geskryf, die musiek is gedoen deur Melissa van der Spuy, en Hennie en Pedro het saam die regie behartig.

Met oorspronklike musiek en al jou kinders se gunsteling-karakters in Kidz Skouspeel, glo Pedro Ma, Pa, Ouma én Oupa gaan die produksie net so baie geniet soos die jongspan.

“Ek was lanklaas so opgewonde oor ’n produksie,” sê Pedro, wat nog altyd ’n passie vir kinderteater het. Hy het self die teks en musiek geskryf vir dié produksie met van Afrikaans se gunsteling-karakters op kinder-TV. Lollos en Lettie, Tjiff en Tjaff, Liewe Heksie en Tom en Tina is onder dié karakters. Boonop is daar twee nuwe sprokieskarakters – ’n towenaar én die prinses van die vallei.

kidz skouspeel

Die towenaar se toertjies en verskynings het my ook weggeblaas. Dis regtig skouspelagtig,” sê hy. “Dis soos konserte soos Afrikaans is Groot en Skouspel, maar vir kinders.”

In die produksie word al die verskillende karakters na ’n groot partytjie genooi, behalwe die prinses van die vallei. Sy moet dan leidrade soek om verskeie legkaartstukke te kry. As sy die legkaart kan bou, word sy ook na die partytjie uitgenooi. Al die ander karakters help haar dan om die legkaartstukke op te spoor.

Pedro verduidelik dat dié karakters steeds opvoedkundige lesse in hul stories bied, maar dat die produksie se doel grootliks is om te vermaak.

“Vir kinders moet jy werk met lesse, maar partykeer moet jy net vermaak. Ons wil nie hê die hele ding moet ’n les wees nie,” verduidelik hy.

Pedro en Hennie, wat onder meer by Naaimasjien en Rondomskrik betrokke was, se produksiemaatskappy Wordsmith’s Theatre Factory werk saam met die Tygervallei-winkelsentrum om dié produksie op die planke te bring. “Dis my brain child, maar ons doen dit eintlik vir die Tygervallei-winkelsentrum,” sê Pedro.

Kidz Skouspeel word die tweede naweek van Julie in die Tygervallei-winkelsentrum opgevoer in ’n spesiale tent met sitplek vir 600 mense. Dié tent (met ’n verhoog binne) lyk soos ’n sirkustent en word spesiaal vir die produksie gebou.

Pedro vertel dat die kaartjies vinnig uitverkoop. Hulle oorweeg dit daarom om ’n vyfde vertoning by die vier geskeduleerde vertonings te voeg. “Ons wil dit ook na die Noorde, die Vrystaat en Namibië toe vat,” vertel hy.

Kry jou kaartjies híér!

Koop jou kaartjies vir Kidz Skouspeel by Computicket koop teen R75 per persoon.