FOTO Antonia Steyn

FOTO Antonia Steyn

Het jy gehoor?

Pieter-Dirk Uys se nuwe dokumentêr

Die dokumentêre prent oor die lewe van die kunstenaar, aktivis en Suid-Afrikaanse ikoon Pieter-Dirk Uys het gister, Maandag, 25 Julie, in teaters begin wys. In Nobody’s Died Laughing word onderhoude ook met die aktrises Charlize Theron, Anna-Mart van der Merwe en Sophia Loren gevoer.

Pieter-Dirk se reis deur Kaapstad, Johannesburg, Grahamstad, Stellenbosch, Londen, Berlyn en sy huis in Darling word op kamera vasgevang.

Nobody’s Died Laughing ondersoek een man se lewenslange toewyding tot sy land en die gebruik van satire om ’n daadwerklike verskil te maak,” sê Willem Oelofsen, filmmaker en regisseur van Nobody’s Died Laughing, in ’n persverklaring.

Willem het in 2014 begin navorsing doen oor Pieter-Dirk en saam met hom tyd bestee in sy persoonlike argiewe op Darling. En in 2015 het Willem en ons kameraspan hom begin volg van Berlyn in Duitsland tot die Kaapse Vlaktes.

Pieter-Dirk is een van Suid-Afrika se bekendste gesigte en hy het deur die jare met baie internasionale celebs en invloedrykes die wêreld oor bevriend geraak. Sonder hom sou tannie Evita Bezuidenhout nooit haar verskyning gemaak het nie.

Verlede week het Nobody’s Died Laughing by die Internasionale Vigskonferensie in Durban gewys. En Willem sê die reaksie was geweldig positief.

“Mense raak altyd opgewonde as Pieter-Dirk in die vertrek is. Charlize en haar ma (Gerda) het tydens die vertoning lekker gelag.”

Charlize se liefdadigheidsorganisasie, Charlize Theron Africa Outreach Project, se inisiatief GenEndIt glo dat die jonger generasie vigs kan stop sit.

“En sy’t besef dat Pieter-Dirk die jongmense kan inspireer. En dié wat in die gehoor was, was geïnspireer!”

IMG_0576

Prof. David Gere, Charlize Theron, Pieter-Dirk Uys en regisseur Willem Oelofsen

Die Hollywood-akteur Richard Gere se broer, prof. David Gere van UCLA, is ook in die dokumentêr te sien!

Pieter-Dirk het in SARIE se September 2015-uitgawe met ons gesels.

Jy is al as soveel dinge beskryf – satirikus, fopdosser, komediant, kabaretkunstenaar, kommunis volgens sommige in die vorige regering, rassis volgens sommige in die huidige regering, moeilikheidmaker, humanis – wat is jy?
Nie een nie. Ek dink nie te veel oor definisies nie. Dit sal my kreatiwiteit verdun tot egosentrisme en selfbewustheid. Ek werk suiwer op my intuïsie. Ek is ’n entertainer en ek doen wat vir my goed, en reg, vernuwend en vermaaklik voel en hoop gehore vind aanklank daarby. As iets nie werk op die verhoog nie, verander ek dit. Maar ek sal nooit my artistieke integriteit prysgee nie, of ’n verhoog misbruik as my persoonlike seepkis vir my of andere se ideologieë nie.

Wat het jy van jou ouers geleer? 
Albei het ’n wonderlike humorsin gehad. Van Ma het ek geleer om nie my kop en my lewe te versuur met onbenullige snert nie. Ma moes oorleef en aanpas in ’n samelewing en ’n land wat vir haar vreemd was. Sy moes van vooraf begin. Dan is daar nie plek vir kleinlikhede nie. Pa het eendag ná een van my produksies [nog tydens die vorige bestel] met my geraas: “Hoekom moet jy altyd so vloek in jou stukke?” “Ag Pa,” het ek geantwoord, “dis net woorde.” “Kielie my saggies agter my oor met wat jy wil sê,” het hy gefluister. “Dan luister ek, en dan kry ek so lekker.” Dit was vir my ’n groot les in subtiliteit.

Wat word nog beplan ter viering van jou sewentigste?
Ismail Mahomed, hoof van die Grahamstadse Kunstefees, het gevra of ek hul eerste Kunste-ikoon sal wees. Ek het geantwoord ek sal liewer hul eerste Kunste-aikôna wees, en ek het my nuwe stuk, African Times, vanjaar by hul fees laat debuteer. Dit kan beskryf word as ’n wit komedie of ’n swart tragedie. Dit speel af in die toekoms van ’n demokratiese Suid-Afrika. Ek is ook konstant besig met solostukke wat ek hier en wêreldwyd speel. Dan word Die Van Aardes van Grootoor ’n musiekblyspel. Dit open die eerste week in Desember in Theatre on the Bay in Kampsbaai. Ons verfilm ’n kykNET-program oor Evita se tagtigste verjaardag. Kyk Net vir Tannie word laat in September uitgesaai. Daar word op die oomblik ’n internasionale dokumentêr oor my gemaak. Vele bekendes verskyn daarin – onder andere Charlize Theron, emeritus-aartsbiskop Tutu en Sophia Loren.

Gaan jy ooit aftree?
As ek een aand op die verhoog stap en daar’s niemand nie, sal ek weet dis tyd om te stop. Vreemd genoeg is my gehore tans groter as wat ek nog ooit gehad het. En tog is daar moontlik ’n hele generasie born frees wat nie eintlik weet wie ek is nie. Maar hulle kom kyk na my produksies. Dis hoe ek weet ons land is in die moeilikheid – mense kom soek desperaat laglafenis oor ons politieke situasie. En onthou, lag verdryf vrees en agterdog en skep hoop. Aftrede behoort opsioneel te wees, nie gedwonge nie. Selfs al is jy 24, en jy kan jouself onderhou, behoort dit jou reg te wees om te sê: “Ek wil aftree.” En as jy tagtig is en nog wil en kan werk, behoort dit jou reg te wees om te sê: “Ek wil nog werk.”

Kyk na die lokprent van Nobody’s Died Laughing hier: