Het jy gehoor?

Kyk hoe lyk Pieter Koen nou!

Toeganklik, aangenaam, bekkig . . . dis Pieter Koen, sanger en veld-aanbieder van Kwêla op kykNET. Maar hedendaagse styl?

Wel, dit het dalk so effens gestagneer of agterweë gebly die afgelope paar jaar. Pieter sê half verskonend oor sy blonde ligstrepe en spikes: “Ek het dan gedink dis in?”

My mening: Gekleurde hare vir mans is taboe.

Toe Pieter tot ’n oormaak-sessie instem, was ’n nuwe haarstyl dadelik die eerste stap. Makliker as wat ons gedink het, in samewerking met Tanaz-haarsalon in Johannesburg en Lisa Levin, ’n talentvolle en ervare haarkapper.

Ons moes wel Pieter se hare kleur om dit so na as moontlik aan sy natuurlike skakering te kry en om van die strepe ontslae te raak.

 

Ek’s nie mooi nie, maar ek’s maklik” – Pieter

 

Kort hare met ligstrepe kan die gevreesde leopard print-kolle op jou kop maak. Ons kon dit duidelik sien terwyl Pieter se spikes op die ritme van die skêr se lemme vloer toe val.

“Ek’s nie mooi nie, maar ek’s maklik,” sê hy (terwyl baie vroue van hom sal verskil oor die mooi). “Toe my haarkapper destyds sê ons moet die strepe insit, het ek gedink: Hoekom nie? Daarna het ek in ’n gemaksone beland met my hare. Mans kan mos oudmodies en eiewys wees. Dís hoekom ons nie altyd genoeg aandag gee aan hoe ons lyk nie,” verduidelik Pieter.

Ons klein veranderings aan sy klerestyl het ook ’n drastiese impak gemaak.

In die verlede het Pieter soos ’n student aangetrek. Nou was dit tyd vir groter sofistikasie!

Pieter is self beïndruk.

“’n Verandering is mos so goed soos ’n vakansie. Mense het die verandering dadelik raakgesien. Ek hou veral van my kort hare. Ek sal dit nie weer in die ou styl dra nie. So ’n oormaak-sessie maak ’n reuse-verskil, nie net vir die mense om jou nie, maar vir jouself.”

Dis eintlik eenvoudig. Mansmodes is presies wat dit sê: manlik. Geruite materiaal, khaki en denim is in die kol – jy moet dit net reg drá. Waag so ’n bietjie, veral as jy weet hóé!

TOE NOU

Pieter Koen voor die oormaaksessie

Die nuwe Pieter Koen

1. Hande in die hare
Netjies gesnyde hare aan die kante en agter, of korter geskeer (soos die sokkerster David Beckham s’n), of langer hare wat natuurlik maar manlik lyk, is die groot tendens. Lang hare word verkieslik met ’n baard (’n paar dae oud) gedra – dink aan die rugbyspeler Victor Matfield. Dit sal jou manlik en rugged laat lyk.
Effens langer hare wat vorentoe en opwaarts gestileer word, is ook gewild, maar dan verkieslik vir jonger mans.
Bly weg van haarkleur, want min mans kry dit reg. Word eerder stylvol grys – dit sal jou “gedistingeerd” laat lyk. Pennetjie-hare (spikes) is nie aanvaarbaar nie, tensy jy nege jaar oud is of jou naam Bart Simpson is.

2. Steek in daai hemp . . . of nie?
Hemde met knope en veral met ruitpatrone word al hoe meer die eerste keuse vir mansdrag.
En wanneer steek jy jou hemp in jou broek en wanneer nie? Gelukkig is die besluit klaar vir jou geneem. ’n Uitgesnyde ronding aan die onderkant van jou hemp beteken steek in. Reguit gesny is vir uithang.
Gholfhemde en T-hemde is steeds mode. Jou T-hemp moet by jou persoonlikheid en jou beroep pas. En nie te klein nie, maar veral ook nie te groot nie – anders lyk dit slordig en sakkerig.

3. Drá die broek
Denim-jeans is altyd in die kol. Denim is die materiaal en jean die styl. Onthou, jy kry ook koordferweel-jeans.
Die geheim van jeans lê in die versorging en snit. Koop jou denim-jeans altyd ’n nommer te klein – ja, regtig! As jy dit aanpas, moet dit effens ongemaklik sit. Denim rek maklik en hang dan sakkerig en vormloos. Dra dit eers ’n dag of wat tuis vóór jy daarmee uitgaan.

Dop jou jeans om en was dit apart in koue water, sonder versagmiddel, net so elke tweede keer dat jy dit aangehad het. Hang dit omgedop oor die wasgoedlyn. Geen tuimeldroog of stryk nie.

Chinos en kakiebroeke lyk baie goed. Vermy net plooie aan die bokant en opslaanpype. Dis oudmodies en onvleiend.

4. Gecollar en getie
’n Goedgesnyde pak is ’n belegging. Jy gaan dit vir ’n lang tyd kan dra. Dis nie soos ’n rok vir ’n vrou nie – niemand sal weet as jy dit weer en weer aantrek nie. Nog ’n bonus: Jy kan die baadjie en die broek afsonderlik dra. Hou jou keuse klassiek. Die baadjie moet verkieslik een of twee knope hê. ’n Swart of donker-vlootblou (navy) baadjie of een met dun potloodstrepe is altyd in die mode.

Min mans dra deesdae dasse, maar dit gaan verander! Ons keer ál meer terug na opdress. ’n Dun of mediumbreed swart das is “in“ en lyk goed by ’n wit of selfs geruite hemp. Blou op blou is gróót, byvoorbeeld ’n vlootblou baadjie, knalblou hemp en inkblou das. Eksperimenteer met kleur, veral as jy jonger is. Moet nooit ’n das by ’n kortmouhemp dra nie, tensy jy regtig wéét wat jy doen.

Om te toets of jou hempsboordjie groot genoeg is, druk jou vinger tussen die kraag en jou nek in. As jy nie jou vinger kan inkry nie, is dit te klein. As hy te maklik ingaan, is dit te groot.
As jy nie ’n das dra nie, steek jou hempskraag by jou baadjie, trui of pak in. Brad Pitt het goed gelyk toe hy sy kraag by sy pak klere laat uitsteek het – 15 jaar gelede! Ek gee nie om of jy trou, doop of skei nie, jy doen dit nie.

5. Trek die stoute skoene aan
Dik rubbersole is onvergeeflik. Smyt dit weg. Tekkies is in en swart blinkleer-toerygskoene of insteekskoene (slip ons) is báie in, met of sonder sokkies. Stewels: ’n moet, op jou enkels of hoër. Maar pasop weer vir dik sole. Vellies, brogues, plakkies, sandale en seemanskoene is in die mode.

6. Voltooi die prentjie
’n Dikraambril, truie, rugbytruie (die modieuse universiteit-soort, nie jou Bloubul-trui nie), trench coats, jasse, baadjies, serpe, kepse, hoede en sakke is almal items wat jou sal laat goed lyk.

Nou’s jy aangetrek. En pas jouself op sodat jy mooi lyk saam met die vrou aan jou sy!

  • ANTOINETTE

    ONS AS GESIN WAS NOG ALTYD MAL OOR PIETER KOEN EN SAL ALTYD WEES MAAK NIE SAAK HOE HY LYK OF WATSE MAKOVER HY KRY NIE. ONS DINK HY LYK BAIE STUNNING EN SO SEXY. HY IS ‘N BAIE AANTREKLIKE MAN EN NET SO SY VROU EN TWEE PRAGTIGE SEUNS OOK. HY LAAT MENS LAG AS DIE LEWE DRUK EN OM NA SY MUSIEK TE LUISTER EN NA SY VIDEOS EN AANBIEDINGS OP TV TE KYK IS GREAT! SY LOOK IS VERANDER MAAR PIETER KOEN SAL ALTYD PIETER KOEN WEES.PIETER BLY DIE PERSOON WAT JY NOU IS JY EN SAL ALTYD EEN VAN DIE LAND SE GEWILDSTE SANGERS EN AANBIEDERS WEES. ONS SAL JOU ALTYD ONDERSTEUN. GESIN VAN CENTURION

  • Elsie

    NEE!!!!! Dis nie die Pieter wat ons leer ken en leer waardeer het nie. Die duiweltjies is weg uit sy oë. Hy lyk nou heeltemal te veel na ‘n ernstige sakeman en daarvan is daar genoeg in die lewe.

  • LOUISA

    EK DINK DIS ABSOLUUT STUNNING!!!!!!

  • Pieter jy lyk baie sexy met die nuwe haarstyl.Daar was niks fout met die ou "look" nie.Ek hou meer van jou nuwe haarstyl.

  • Linda

    Ek stem saam met Elsie, nie dat hy nou baie stylvol lyk nie, maar ek verkies hom met die spykes.

  • Annette

    Sjoe, Pieter lyk sexy verby!!! mense maar ek kan my verkyk….

  • louisv

    Pieter se hare lyk baie mooimaar wat van n netjise baard,toe grooi vir jou nou n baard ,jy sal so sexy lyk met n baard P IETER

  • NICOLENE

    WOW!!! Jy lyk absoluut fantasties en baaaaaaie sexy. Kannie ophou kyk nie. Wens hulle wil jou ‘n slag na ons dorp toe nooi. Ons kan doen met so ‘n bietjie van jou humor…