corli
Het jy gehoor?

Pretoria-deelnemer kraai koning in Koekedoor

kykNET se gewilde werklikheids- en kosreeks, Koekedoor, het Donderdagaand ’n nuwe wenner opgelewer.

Corli Botha van Pretoria stap as wenner van die tweede seisoen weg. Sy en Wessels van Vuuren van Houtbaai het in die finale episode teen mekaar meegeding.

Corli Botha en Wessels van Vuuren in die finaal van Koekedoor

Corli Botha en Wessels van Vuuren in die finaal van Koekedoor.

In Donderdagaand se episode moes Corli en Wessels elk ’n troukoek bak. Die tema vir die episode was “Die Kaap is weer Hollands” en die vereistes was ’n minimum van vier lae, Delft-blou en ’n spatsel kleur.

’n Oorstelpte Corli het na afloop van die episode aan SARIE gesê toe sy en nege ander deelnemers dertien weke gelede by die Koekedoor-stoor op Tulbagh ingestap het, het sy geweet dit gaan nie ’n maklike taak wees nie.

“Sjoe, dit was ’n onvergeetlike gebeurtenis en Wessels was ’n gedugte mededinger. Ek stap met soveel dankbaarheid en nuwe vriende weg. Ons elkeen kry ’n kans in die lewe om iets te doen, en hierdie was my groot kans, ek sien daarna uit om die toekoms met kos as fokus aan te pak.”

corli

Corli van Pretoria vat die koek in Koekedoor se finaal.

As wenner stap Corli weg met ’n Suzuki Ciaz ter waarde van R220 000, ’n kontantprys van R200 000 en ’n boekkontrak van Human & Rousseau. Sy het reeds haar boek, Corli se kombuis, geskryf en dit verskyn in Augustus vanjaar.

Maak seker jy kry die September/Augustus 2016-uitgawe van SARIE KOS (te koop vanaf 1 Augustus). Ons kuier in #SARIESondag saam met Corli en die 9 ander Koekedoor-finaliste.