#SARIESondag  Koekedoor 2   (17 of 62)
Het jy gehoor?

Nuwe Koekedoor oor haar kookboek en Bloubul-rugbyman

Corli Botha is onlangs as kykNET se tweede Koekedoor gekroon en nou gaan haar eerste kookboek, Corli se kombuis (Human & Rousseau, R300), eersdaags op die rak gaan wees.

Ek het met haar gaan gesels oor die wen, wat sy nou maak en ook sommer meer oor haar Bloubul-rugbyman uitgevind.

Ons het jou leer ken as die koekfeetjie wat in die kombuis rondsweef soos jy bak. Waar kom jou liefde vir kosmaak vandaan?

Ek glo jy word met ’n liefde of talent gebore en vandaar word die liefde in iets spesifieks gekoester en gekweek. My liefde vir bak en kos kom vir seker van my ouma Corrie af. Tydens vakansies het ek altyd by haar gaan kuier en dan elke dag saam met haar na haar werk in die hartjie van Pretoria se middestad gegaan, waar sy vir TRUK gewerk het. Sy het balletklere vir mans gemaak het. Later jare het sy by ons aan huis gewoon en toe was my gunsteling-tye Sondagmiddae, wanneer jy so in die sonnetjie by haar gesit het en sy jou stories vertel het wat jou ure kon besig hou.

Sy was ’n formidabele troukoekbakker. Ek het steeds van haar spuitsak-punte en panne wat seker so 50/60 jaar oud is. As kind het ek geweet waar ek vandag sou wees en het daarom als van ’n pan, mengbakbak, alle resepte en sommer al haar advies op band vasgelê … Ek is seker haar hart sou gebars het van trots as ek vandag 5 minute met haar kon gesels.

corli 2

Jy en jou man, Gary Botha, het lank in Frankryk gewoon. Hoe het dit jou kook- en bakstyl beïnvloed?

Dit het net weer my liefde vir kos en gebak aangevuur. Ek het party dae so baie tyd op hande gehad dat ek ure in koswinkels en patisserieë deurgebring het. Ek kon letterlik van die een bakkery na die volgende stap. Ek het elke dag kos en gebak gemaak van ’n vyfster-hotel. Bloot sodat ek als kon toets. Gary moes net keer, want dit moes inpas by ’n gesonde dieet en leefstyl. Gelukkig glo ek dat gesond eet ook lekker moet wees, so hy kon elke dag saam eet en proe.

Gary is ’n groot rugbyspeler wat jou ondersteun in alles wat jy doen. Help hy jou ooit bak of kook?

Hy help graag met wat ook al ek vra. Hy het al baie goed die taak bemeester om ’n groot fondantkoek oor te trek, en hy sit tot laatnag ewe getrou langs my, al raak hy aan die slaap. Ek moet net keer vir ’n kop wat dalk in die koek kan val.

Hy is ook lief daarvoor om met ’n nuwe kombinasie van smake vorendag te kom en te sê ek moet dit probeer. Gary kan kos en koeke so beskryf dat jy dit byna self kan proe. Hy dink daar is niks wat ek nie lekker kan maak nie.

Jy laat nie gras onder jou voete groei nie, skaars is Koekedoor klaar en jou boek is hier. Wat kan ons in die boek verwag?

Corli se kombuis is propvol heerlike resepte. Daar is ’n groot verskeidenheid, van klein happies, braaigeregte en pragtige terte tot Franse gebak en ander meesterstukke.

Corli se kombuis (Human & Rousseau R300)

Corli se kombuis (Human & Rousseau R300)

As ek een resep in die boek moet maak, wat is dit?  

Moet ek regtig een kies? Beslis my ouma Corrie se Klappersuurlemoen-resep, as jy van klapper en suurlemoen hou. Dis ná al die jare nog ’n wenner!

Corli en haar ouma Corrie

Corli en haar ouma Corrie

Wat is jou planne vir die toekoms?

Koekedoor het vir my so ’n heerlike platform gebied dat enige plan en droom nou vir my na ’n moontlikheid lyk. ’n Groot droom is bewaarheid – my eie resepteboek.

Ek gaan binnekort my winkel, Corli’s Kitchen, open. Dalk ook nog ’n kook-ateljee, kosdemonstrasies en wie weet, dalk my eie kosprogram. Ek is ’n groot voorstander van die gesegde “Moenie mense vertel van jou drome nie, wys hulle eerder.”

Corli in die Koekedoor stoor aan die bak.

Corli in die Koekedoor-stoor aan die bak.

* Kyk uit vir die Augustus/September 2016-uitgawe van SARIE KOS. Herman kook #SARIESondag-middagete vir al 10 die Koekedoor-finaliste. Te koop vanaf 1 Augustus 2016.

10 Koekedore om Herman se tafel vir SARIE KOS se #SARIESondag. Te koop vanaf 1 Augustus 2016

10 Koekedore om Herman se tafel vir SARIE KOS se #SARIESondag. Te koop vanaf 1 Augustus 2016