FOTO: Instagram / @prince

FOTO: Instagram / @prince

Het jy gehoor?

Prince, ’n pionier van sy tyd

’n Prodigy en ’n pioneer. Sonder twyfel het die musikant Prince ’n impak op die 1980’s gehad. Die Grammy-wenner is gister in die ouderdom van 57 oorlede by sy huis, Paisley Park, in Minnesota, VSA.

Verlede Vrydag moes sy private vliegtuig ’n noodlanding in Illinois uitvoer nadat die sanger siek geword het. Hy is inderhaas hospitaal toe geneem met griepsimptome, berig BBC.

“Hy was ’n one-man band. Prince het sy eie liedjies geskryf, sy eie backing vocals gesing, sy eie musiek-instrumente gespeel. En hy het dit als in sy ateljee opgeneem! Prince was geniaal. En daaroor is geen twyfel nie,” vertel Danie Marais, digter en musiekkenner, aan SARIE.com.

Prince was ’n musikale argitek.

Op 7 het hy sy eerste liedjie geskryf op sy pa, John Lewis Nelson, se klavier. En as 18-jarige het hy sy eerste kontrak geteken by Warner Bros. Records en in 1978 het sy debuut-album, For You, verskyn.

“Hy het die klanke van rock, R&B, funk en hip hop verbind. Meng vir James Brown, David Bowie en Jimi Hendrix saam en jy kry vir Prince. Hy was ’n performer,” vertel Danie verder.

Volgens die musikant Schalk Joubert was Prince uiters talentvol en divers.

Hy was dalk aanvanklik meer bekend vir die funk-styl, maar sy kitaarspel was diep gewortel in die blues. Hy het met klank geskilder. Dit het nie net oor note gegaan nie.”

Embed from Getty Images

In sy loopbaan het hy sewe Grammy’s gewen, verskeie treffers en byna veertig albums opgelewer. Hy het in 1984 in die lokettreffer Purple Rain gespeel en het daarvoor die Oscar gewen vir oorspronklike musiek.

Hy het ook groot treffers vir ander musikante geskryf, soos Sinéad O’Connor se Nothing Compares 2 U.

Hier sing Prince sy bekende Purple Rain:

In Januarie vanjaar is die Britse sanger David Bowie oorlede, en ’n paar dae later het die Eagles se voorsanger, Glenn Frey, ook gesterf.

“Ons is op die punt waar pioniers van kunsvorms een ná die ander sterf. Prince se impak was besonders.”

Gister het verskeie musikante en akteurs huldeblyke getwiet

 

Lees die New York Times vir verdere inligting oor Prince.

Lees nou