Het jy gehoor?

Prins Harry oor Afganistan, die kaal foto’s, en die baba…

“Ek is ontsaglik bly vir hulle! Dit is omtrent tyd! Ek kan nie wag om ’n oom te wees nie,” het Harry gesê oor William en Kate se eersteling wat oppad is.

Die hertog en hertogin van Cambridge moes vir Harry die nuus oor Kate se swangerskap telefonies oordra terwyl hy in Afganistan was. Harry het gesê hy hoop dat Kate die nodige beskerming en privaatheid kry wat ’n ma benodig. Dit is waarskynlik na aanleiding van sy oorlede ma, prinses Diana, se onstuimige verhouding met die paparazzi.

Sy tyd in die weermag

Dié medevlieënier van ’n Apache-aanvalshelikopter het erken dat hy rebelle moes doodmaak om die troepe op die grond te beskerm as hy gewonde soldate moes ontruim.  

“Jy moet ’n lewe neem om ’n lewe te red … As daar ouens is wat slegte goed aan ons ouens wil doen, moet ons hulle uit die spel haal,” het die rooikop prins gesê.

Maar om mense dood te maak was nie die rede waarom Harry ’n vlieënier in die weermag geword het nie. “Dit gaan nie oor die skietery nie, dit gaan oor die beeld [om die vyande af te skrik].”

Die liefde?

“Ek dink nie jy kan ooit geforseer word om ’n vaste verhouding te hê nie. As jy die regte persoon vind en als voel reg, dan neem dit tyd … veral vir my broer en myself. Jy gaan nie iemand vind wat dadelik in die posisie wil wees en wat daarmee gepaard gaan nie. Dit is so eenvoudig soos dit.”

Hy wou nie bevestig of ontken of hy ’n spesiale vriendin het wat in Brittanje vir hom wag nie.  

Harry was voorheen sewe jaar in ’n aan-af-verhouding met Chelsy Davy, wat in Zimbabwe gebore is. Hul verhouding het na bewering finaal op die rotse beland ná William en Kate se troue.

Voordat hy ontplooi is, het hy ’n romanse begin met die 23-jarige model Cressida Bonas.

En wat van daai kaal foto’s, Harry?

Harry is ‘n paar maande gelede kaal tussen meisies in ’n Las Vegas-hotelkamer afgeneem. Dié foto’s het die media laat gons oor die “stout” prins. Hoewel hy ongelukkig was dat iemand die foto’s laat uitlek het, neem hy verantwoordelikheid vir sy gedrag.  

“Ek het myself teleurgestel. Ek het ander mense teleurgestel … Dit was ’n geval van te veel ‘army’ en nie genoeg ‘prins’ nie.”

Prins Harry het die media ook skerp aangeval vir hul rol in sy en sy familie se gebrek aan privaatheid. “Ek dink nie daar is meer iets soos ’n private lewe nie … Almal wat ’n koerant koop, is seker skuldig.”  

  • mariette

    Ek stem volkome saam met prins harry jy het nie meer privaatheid nie, want dis net
    Paparazzi voor en agter en deur hulle is prins william en harry sonder n moeder
    N ouma, skoonma vir kate ens. Al daai voordele vir prinses diana is weggeruk deur
    Hulle en blameer hulle vir haar oorlede. Sy het ook n reg gehad soos enige persoon
    Vir privaatheid deur dit is dit weg. Gun die twee prinse hulle privaatheid wat hulle
    Ongeag doen is hulle baby, nie ons om te judge nie.