Diana, Harry en William by die Thorpe-pretpark in Engeland 
FOTO Getty Images / Gallo Images

Diana, Harry en William by die Thorpe-pretpark in Engeland FOTO Getty Images / Gallo Images

Het jy gehoor?

Prins Harry onthou sy ma by pretpark

’n Pretpark is waar herinneringe geskep word. En dis dieselfde vir gewone kinders as vir koninklikes.

Prins Harry het 23 jaar gelede as 8-jarige Walt Disney World in Orlando saam met sy ma, prinses Diana, en broer, prins William, besoek.

Hy het die park vandeesweek weer besoek en dis onmoontlik om nie die foto’s van tóé en nou met mekaar te vergelyk nie.

Die 31-jarige rooikopprins het dié week gesê hy het destyds die Space Mountain-rit sowat 12 keer gery, en dat sy lyfwag moes afklim omdat hy siek geword het. “As jy daardie ouderdom is, dink jy jy kan enigiets doen, en dan begin jy bene breek en besef dis nie waar nie,” het hy aan People vertel.

Om weer by dié pretpark te wees, hierdie keer sonder sy ma, was hartseer.

“Dis baie hartseer dat my ma nie hier is nie, maar hopelik is sy baie trots op dit wat ek al reggekry het.

- Prins Harry

Prins Harry is in Amerika vir vanjaar se Invictus-spele. Dié spele is in 2014 deur die prins begin om gewonde soldate en oorlogveterane te motiveer en aan te spoor om aktief te bly.

Harry, wat 12 jaar oud was toe sy ma oorlede is, is ook betrokke by Sentebale, wat geld insamel vir kinders wat deur MIV geraak is in Lesotho en Botswana. Hy reël nou vir volgende maand ’n reuse-fondsinsamelingskonsert in die tuine van Kensington-paleis, waar Coldplay die groot trekpleister gaan wees. Hy glo hy het sy liefde vir liefdadigheidswerk by sy ma geërf.

Bronne: People, Huffington Post