FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Prins Harry tree uit as helikoptervlieënier

Net ’n paar maande nadat prins William gesê het hy tree uit die lugmag om meer liefdadigheidswerk te doen, het sy 29-jarige broer Harry ook as helikoptervlieënier uitgetree.

Maar anders as William, gaan Harry nog in die lugmag aanbly, het Kensington-paleis in ’n persverklaring gesê. Harry gaan nou ’n stafoffisier word.

Lees hier: William tree uit lugmag

Hy gaan steeds sy rang as kaptein hou, maar gaan eerder as om met die Apache-helikopters diens te doen (Harry was twee keer in Afganistan) nou seremoniële geleenthede vir die leër reël.

Een van Harry se eerste take gaan wees om ’n sportgeleentheid te organiseer vir beseerde soldate van Brittanje, Amerika en die Statebond – iets wat na aan Harry se hart lê.

Hy het verlede jaar na die Suidpool gereis as deel van ’n fondsinsameling. Sy span, wat uit beseerde Britse oud-soldate bestaan het, het meegeding teen beseerde Amerikaanse oorlog-veterane (onder leiding van die True Blood-akteur Alexander Skarsgård) én ’n Statebond-span (onder leiding van die The Wire-akteur Dominic West). Dié spanne wou 16 dae in Antartika meeding om te sien wie eerste die bestemming bereik. Weens gure weer kon die spanne egter eers later in Antartika aankom, wat beteken het dat Harry ’n ruk in Suid-Afrika vertoef het – lees meer hier.

Bronne: Kensington-paleis, Daily Mail