princeharry_getty
Het jy gehoor?

Prins Harry volg in sy ma se voetspore

Prins William het onlangs gesê sy ontslape ma sal trots wees op sy broer se liefdadigheidswerk. En nou ondersteun Harry ’n saak wat baie na aan haar hart was – die vernietiging van landmyne.

In 1997 het Diana se besoek aan ’n landmynveld (sy het selfs daardeur geloop!) in Angola vir internasionale hoofopskrifte gesorg. Daar was ’n groot teenreaksie oor die koninklike gesin se politieke onpartydigheid, maar Diana het volgehou: dít is ’n humanitêre krisis.

Foto’s van haar met ’n beskermende masker en klere, en foto’s waar sy met landmynslagoffers gesels, het ikonies geword.

Nou volg prins Harry in haar voetspore deur die beskermheer te word van die Halo Trust, dieselfde organisasie wat sy ma ondersteun het. Die Trust vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar.

Dié organisasie het sedert sy bestaan reeds 1,4 miljoen landmyne buite werking te stel. Diana se besoek aan Angola saam met die Halo Trust was minder as 8 maande voor haar dood.

Harry het reeds in 2010 Mosambiek besoek om meer van Halo se werk te leer. Met dié besoek het hy nie net mense ontmoet wat ledemate weens landmyne verloor het nie, maar het ook self die geleentheid gehad om landmyne te deaktiveer. Hy het dieselfde soort beskermende klere gedra wat sy ma gedra het.

Die 28-jarige prins wou glo dié liefdadigheid op ’n meer formele wyse ondersteun toe Halo se uitvoerende direkteur onlangs gesê het mense besef steeds nie dat die einde van ’n oorlog nie die einde van landmyne beteken nie. “Landmyne dood en vermink mense elke dag – daar was 4 000 slagoffers van landmyne in 2011. Prins Harry se ondersteuning sal ons help om vinniger fondse in te samel om meer mense op te lei om landmyne te vernietig. Só kan ons vinniger van landmyne ontslae raak,” het Halo Trust se hoofbaas gesê.

Bron: Daily Mail