springboknude_girls
Het jy gehoor?

Raai watter SA groepe open vir U2?

2010 was ‘n groot jaar vir Suid-Afrika. 2011 beloof ook groot te wees! Die rock-groep U2 is in Februarie hier (13de in Johannesburg, 18de in Kaapstad). Kyk ook uit vir ander groot name soos Roxette, Kings of Leon en Neil Diamond.

Dis sekerlik enige musiekgroep se droom om vir ‘n wêreldbekende groep soos U2 te open. U2 bly by hul jare lange tradisie om 2 plaaslike groepe te vra om vir hulle te open. Dis gister bekendgemaak dat die twee gelukkige groepe, Amadou and Mariam en die Springbok Nude Girls is.

Arno Carstens, hoofsanger van die Springbok Nude Girls, het ‘n tydjie afgeknyp om vir sarie.com te vertel hoe hy voel:

Wat was jou eerste reaksie toe jy hoor dat julle vir U2 gaan open?
“Ek het ‘n SMS van my agent in die VK gekry wat gesê het watch this space en toe het John Langford ons laat weet. Na die tragiese hantering van Duran Duran was dit welkome nuus. Die hele SNG is ongelooflik geëerd om vir U2 te open. Die kaliber bands wat al vir U2 geopen het, is ongelooflik. En om een van daai nommers te wees…”

Baie geluk! Hoe voel dit, en het jy dit enigsins verwag?
“Persoonlik het ek gedink dit sal seker Parletones wees, so dit was ‘n groot surprise. En nadat ek in my solo-hoedanigheid met die Rolling Stones gespeel het, het ek nie verwag dat weerlig 2 keer sou slaan nie.”

 

Gaan julle dalk saam een van die ander internasionale bands wat die land in 2011 besoek, ook optree?
“Persoonlik dink ek ná U2 sal dit verkeerd wees vir SNG om weer vir ‘n band in SA te open, maar ons stem maar oor sulke dinge. Daar is sulke cool bands in SA wat ek glo ook ‘n kans moet kry om saam met die internasionale bands te speel.”

Wat voer julle nog in die mou? Enigiets wat julle aanhangers kan verwag?
“Ja, ons het beplan vir 3 groot shows en dan ‘n nuwe album in 2012, maar nou sal ons miskien die album vroeër doen.”

Enige raad aan aspirant-musikante?
“Glo in julself, werk hard en weet dat die wêreld ‘n snaakse plek is waar enigiets kan gebeur.”

  • Wendy

    Ek moet eerlik wees ek het ook gedink die Parletones gaan vir U2 open. Ek was nog nooit ‘n groot SNG aanhanger nie maar sien uit om daar te wees as hulle vir U2 open. 40 dae… KAN NIE WAG NIE!