FOTO: Twitter

FOTO: Twitter

Het jy gehoor?

Radioman Kieno Kammies nederig ná bydraes vir vuur-slagoffers instroom

Meer as R3 miljoen is reeds ingesamel met die sogenaamde “fireradiothon“, ’n hulpfonds wat Primedia op Cape Talk en sy susterstasie KFM vandeesweek aangekondig het – vier dae ná vernietigende vure sowat 5000 hektaar van die Kaapse Skiereiland verwoes het.

Ná hy op Breakfast with Kieno Kammies op Cape Talk ’n beroep op die publiek gedoen het om dié saak te ondersteun, het hy later gesê: “’n Mens word nederig deur die publiek se reaksie. Individue en groot korporasie het hul hand diep in die sak gesteek om die vrywillige brandweermanne te ondersteun. Ek is trots daarop om ’n Suid-Afrikaner en veral ’n inwoner van die Wes-Kaap te wees. Ons word daagliks met so baie negatiwiteit in die nuus gebombardeer, maar dié bring ons terug na die werlikhede van Suid-Afrika. Ten spyte van al ons uitdagings, kan die man op straat só persepsies omswaai … Ek sien daagliks hoe gewone Suid-Afrikaners minderbevoorregtes help.”

Selfs premier Helen Zille en die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille (getroue luisteraars van dié radiostasie) het in hul persoonlike hoedanigheid elk R1000 geskenk. “Wanneer ons hulle ook al nader om hulp, is hulle altyd bereid om te help.”

Die geld sal hoofsaaklik aangewend word om vrywillige vuurbestrydingsdienste vir die toekoms te verbeter  en ’n gedeelte sal ook aan die Dierbeskermingsvereniging (DBV) geskenk word. Baie diere ly as gevolg van dié vure. “Dit is ’n verskriklike tragedie, maar soms het mens dié soort uitdagings nodig om weer bietjie lewe in die menslike siel te blaas. Ons verloor dit soms, tensy ons saamgesnoer word deur ’n groot gebeurtenis soos ’n Wêreldbeker-rugbyreeks …” vertel Kieno.

Gebruik #CapeFire op sosiale media om van die ongelooflike stories en foto’s van dié brand te sien: