Het jy gehoor?

Red die planeet met Earth Hour

Op Saterdag, 28 Maart 2009, om 8:30 nm. skakel miljoene mense wêreldwyd hul ligte vir ’n uur af ter ondersteuning van Earth Hour, ’n bewusmakingsveldtog oor klimaatsverandering en aardsverwarming.

Earth Hour is die inisiatief van die Word Wide Fund for Nature (WWF), wat in 2007 in Sydney, Australië, begin is. Altesame 2,2 miljoen mense en meer as 2 100 sake-ondernemings regoor die stad het daardie jaar hul ligte vir ’n uur uitgedoof. Dié impak was gelykstaande aan 48 000 minder motors op paaie per jaar.

Verlede jaar het 371 stede in 35 lande verenig om dié kragtige boodskap uit te dra.

En vanjaar het inwoners, private maatskappye en openbare ondernemings in 75 lande – tans 900 stede – hulle reeds hiertoe verbind, onder wie SARIE se moedermaatskappye, Naspers en Media24.

Earth Hour 2009 se teiken is om 3 miljoen Suid-Afrikaners te mobiliseer om standpunt in te neem.

Sluit nóú aan by aartsbiskop Desmond Tutu, beskermheer van Earth Hour wêreldwyd, en help ons om die planeet te red.

Dis maklik. Al wat jy hoef te doen is om jou naam by www.earthhour.org.za te registreer. Jou naam word deel van ’n wêreldwye petisie met eenbiljoen name wat die WWF in Desember na die Verenigde Nasies se klimaatskonferensie in Kopenhagen sal neem. Die petisie sal hier oorhandig word om vir die leiers te wys dat gewone mense ’n nuwe doeltreffende klimaatsooreenkoms vereis.