Michris Janse van Rensburg en gesin. FOTO: Facebook

Michris Janse van Rensburg en gesin. FOTO: Facebook

Het jy gehoor?

Reën: Dansende boer vertel oor vreugde!

Toe die reëndruppels val, het sy voete vanself begin dans. En vir ’n oomblik het Michris Janse van Rensburg, ’n boer van Bultfontein in die Vrystaat, se sorge weggespoel.

“Dit was onbeskryflik! My hart het gebars,” het Michris aan SARIE.com vertel. ’n Video van Michris wat saam met sy seun in die reën dans, het vroeër die week soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dis later deur Netwerk24 gedeel.

Michris vertel hy was in Bloemfontein vir ’n tandartsafspraak toe dit begin reën het. “Ek kon nie vinnig genoeg by my plaas kom nie. Maar toe ek by my plaas se grondpad kom, was dit kurkdroog. My hart het gesink!”

Die storm het egter gedraai. En gou het Michris se plaas ook reën gekry.

“Ek het net my seuntjie gegryp en begin dans! Onthou, dit was ook vir my kinders moeilik. En vir hulle het die reën ook vreugde gebring.”

Die afgelope week het die reën veral in dele van die Vrystaat, Gauteng en in Noordwes geval.

Van die plekke in die Noordoos-Kaap waar dit goed gereën het, sluit in Jamestown (tot 40 mm), Elliot (22 mm), Barkly-Oos (20 mm), Aliwal-Noord (19 mm) en Molteno (17 mm), berig Netwerk24.

Maar die boere kry steeds swaar, sê Michris.

“Die reën het verligting gebring. Maar ons bid vir nog!”