Robbie is vroegoggend al by Jacaranda FM se ateljee
FOTO verskaf

Robbie is vroegoggend al by Jacaranda FM se ateljee FOTO verskaf

Het jy gehoor?

Robbie Kruse sê tot siens Jacaranda!

Robbie Kruse verruil sy vroeë oggende vir laat middae wanneer hy einde Mei aansluit by ’n ander radiostasie.

Die gewilde sportaanbieder verlaat Jacaranda FM se ontbytprogram vir “The Roger Good Show” op 5FM. Robbie het as televisie-aanbieder van die program Bravo! op kykNET ’n bekende gesig in baie huise geword.

Hy het op sosiale media aangekondig dat verlede week Donderdag sy laaste dag op die ontbytprogram was. Daarna het ’n stroom luisteraars kommentaar gelewer, sowel as gelukwense van sy voormalige spanmaats by Jacaranda.

Robbie kruse tweet

robbie kruse tweet

Dit was Robbie se energie wat 5FM se stasiebestuurder Justine Cullinan beïndruk het en sy het in ’n verklaring gesê dat dit juis Robbie se sportvaardighede en jong energie is wat hom perfek laat inpas by die “sirkus” wat “The Roger Good Show” is.

“Ek het ’n aanbod  gekry by 5FM. Ek wou nie self skuif nie, maar ná 8 jaar by Jacaranda en die geleentheid wat ek gekry het, besef ek dis ’n goeie geleentheid om te groei. Ek dink nie mense moet in ons bedryf te lank op een plek bly nie,” het hy aan Fanie Cronjé gesê.

Die vroeg opstaan het hom nie gepla nie. Inteendeel, dit het deel geword van sy leefwyse.

“Vanoggend teen 07:30 was ek al klaar gedraf en moeg vir die dag,” spot Robbie. “Vir die eerste keer sedert ek my vrou ken, het ons saam op ’n Maandagoggend-ontbyt geëet in die bed.”

Robbie moes teen 04:30 soggens opstaan om 05:00 by die ateljee te wees vir die ontbytprogram wat tussen 06:00 en 09:00 uitgesaai is. Teen 11:00 was Robbie los en dan het hy begin werk aan Bravo!. Nou is sy dae net omgedraai. Hy sal tussen 4 en 7 in die namiddag op radio uitsaai en soggens gaan hy sy Bravo!-opnames doen.

Die nuwe uitdaging is vir Robbie iets om na uit te sien.

“Dit is ʼn kompliment dat ek as Afrikaanse laaitie van die Moot in Pretoria nou by ʼn Engelse radiostasie werk.”

- Robbie Kruse

SARIE het Julie 2015 Robbie se troufotos eksklusief gedeel en het ook meer oor sy lewe en drome vertel.

“Ek is gelukkig lief vir mense, vir netwerk en gesels,” sê hy. “Ek wou van kleins af ’n Hollywood-akteur wees en het as driejarige liedjies gesing vir wie ook al wou luister. By skoolkampe aan Pretoria Boys High School was ek daai kind wat stories om die kampvuur vertel het.”

Hy het ná skool ondernemingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer, waar hy in sy eerste jaar al by Tuks FM as omroeper begin werk het. Soos die geluk dit wil hê, het hy in sy tweede jaar onderhoude met van die Mej. SA-finaliste gedoen. Een van hulle was die bekende radio-omroeper Darren Scott se vrou, Sarah-Kate. [Sy was ook verlede jaar as Mev. Suid-Afrika gekroon.] Sy het haar mede-finaliste se onderhoude oor die radio gehoor en vir Darren vertel hoe goed Robbie is, waarna hy al as student ’n werk by die stasie aangebied is. Vir meer as ’n jaar het hy by Tuks FM gewerk én laatnagprogramme by Jacaranda aangebied voordat hy na die Jacaranda-ontbytprogram geskuif is.

“Ek was so ses jaar by Jacaranda toe ek op dieselfde manier by Bravo! werk kry. Hulle het [twee jaar gelede] ’n insetsel oor Rian van Heerden, die anker-aanbieder van die oggendprogram, kom doen, en ek het op kamera oor hom gesels. ’n Week later het die Bravo!-span vir my werk aangebied. Ek het nooit voorheen daaraan gedink om TV-werk te doen nie, maar toe sê ek net: Oukei, let’s rock and roll!”

Hy het gegaan van kampusradio to streekradio tot nasionale radio, inderdaad iets om op trots te wees. Nou is dit tyd vir ’n nuwe episode in Robbie se lewe. Hy is van 30 Mei om 16h00 op die lug in The Roger Good Show op 5FM.