Het jy gehoor?

FOTO’S: Rolanda en Jozua se Turkse wittebrood

Regisseur Jozua Malherbe en aktrise Rolanda Marais het die dag ná hul sprokiestroue op 6 Februarie vanjaar, by Old Mac Daddy in die Elgin-distrik, op ’n week lange wittebrood na die Turkse stad Istanbul vertrek.

“Dit was my verantwoordelikheid om die wittebrood te beplan. Rolanda het die hele tyd gedink ek gaan niks doen nie.

“Eers het ek gedink ons moet Kenia toe gaan. Ek was besig om aan Fluiters te skiet en het reeds kontakte gekry om daarheen te gaan. ʼn Hotel op die strand het vir my geklink na romanse en rose.

“En toe, eendag terwyl ek huis toe ry, is dit net soos ʼn stem van bo wat sê Turkye. Ek het nooit aan Turkye as ’n wittebroodsbestemming gedink nie; nog nie eens foto’s van Turkye gesien nie. Maar ek het onmiddellik huis toe gery en die kaartjies bespreek. Die besluit het ek gemaak suiwer op inspirasie,” vertel Jozua aan Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur.

ISTA0329

Dag 3 voor ons die pad gevat het: ’n vinnige selfie met my geliefde. FOTO Jozua Malherbe

“Istanbul is anders en vreemd,” sê hy. “Dis ’n Moslemstad met ’n ryk en diverse geskiedenis. Dit was my en Rolanda se eerste keer saam oorsee en dit was wonderlik om ʼn stad wat 2 000 jaar oud is saam met my vrou te kon ervaar. Ons deel dieselfde belangstellings – restaurante, kunsuitstallings en museums.”

ISTA0082

Die Dinsdagmiddag het ons kunsgalerye en museums besoek. Dié foto is by die eerste galery geneem, by ’n uitstalling oor die geskiendenis van Istanbul. FOTO Jozua Malherbe

Rolanda vertel: “Ek is nie ’n eilandmens nie, nie met my wit vel nie. So ʼn paar dae voor ons vertrek, vra ek toe vir Jozua hy moet nou vir my sê, want ek moet pak. Toe hy sê dis Istanbul, was ek baie bly. Dis so ’n ou stad met sy museums en kuns en pas by ons. Dit was fantasties saam met hom. Ons is nie konvensioneel nie, so Istanbul was perfek.

“Ek het al baie gereis en was al op baie plekke. Maar om dit saam met die liefde van jou lewe te doen, is dubbel so lekker. ʼn Mens wil dit deel. Die ervaring is net beter en lekkerder,” beklemtoon sy.

Hulle deel hul wittebroodsfoto’s wat deur Jozua geneem is eksklusief met SARIE.com.

ISTA0652

Ná al die rondloop in moskees en kerke het ons in markies gaan kuier. Istanbul is groot op markte en hierdie foto is geneem by die Grand Bazaar, wat ook die oudste mark in Turkye is. Die mark is in 1461 voltooi en strek oor 61 strate. Dit was ’n wonderlike maar oorweldigende ervaring. Ons is daar weg met kruie, tee, parfuum en ’n klein Persiese mat. FOTO Jozua Malherbe

Blaai deur ons galery vir nóg foto’s wat Jozua geneem het.

Dag 2 in Istanbul. Ons het die Maandagmiddag eenuur by ons Airbnb-plek aangekom. Dieselfde aand het ek vir Rolanda dié jas gekoop in ’n vintage-winkel in die voorstad Beyoglu. Die foto is die volgende oggend, dag 2, geneem toe ons op soek was na ontbyt. Teen die muur agter haar is ’n kuns-installasie van sprinkane wat klim.
FOTO Jozua Malherbe

Dié dag het ons gemik om so veel moontlik kerke en moskees te sien. Hier is die ingang van die befaamde Hagia Sophia, of Ayasofya soos dit plaaslik genoem word. Die Ayasofya is baie oud en is oorspronklik in 537 n.C. opgerig as ’n gebou vir die Grieks-Ortodokse Kerk. Tussen 1204 en 1261 was dit ’n Rooms-Katolieke kerk en toe finaal ’n moskee, vanaf 1453 tot 1931. Dit is nou net oop vir toeriste en word nie meer as moskee gebruik nie.
FOTO Jozua Malherbe

Straatkos is baie populêr in Istanbul. Falafel, neute, en verskeie geregte met vleis, jogurt en groente. En natuurlik brood in al sy vorms en glorie.
FOTO Jozua Malherbe

Die Istanbul MOMA is waar ons die laaste ure van die middag bestee het. Daar was ’n wonderlike uitstalling oor die geskiedenis van moderne kuns in Istanbul. Selfs William Kentridge is deel van dié uitstalling.
FOTO Jozua Malherbe

Een van die min luukse restaurante waar ons geëet het. Ook heel per ongeluk. Met ’n smal stel trappe vyf verdiepings op kon ons oor die hele gebied kyk uit die restaurant Leb-i derya. Die kos was uit die boonste rakke en die romantiese atmosfeer net reg vir ons wittebrood.

Hier is die agterkant van die Ayasofya. Dit lyk baie klein in vergelyking met hoe groot en majestueus dit werklik is.
FOTO Jozua Malherbe

Rolanda dra van die goed wat ons die dag op die markte gekoop het. Teen dié tyd was ons pootuit en ’n lekker koffie met die finale stap huis toe was perfek.
FOTO Jozua Malherbe

Een van die wonderlike dinge in Istanbul is al die rondloopkatte en -honde. Die mense bly meestal in woonstelle, en die diere leef op straat. Almal help om hulle te versorg en daar is katbakkies en -bedjies op elke hoek. Jy sien ook gereeld 'n hond met 'n lekker groot been in sy bek. Dit is waar dat jy ’n samelewing kan takseer op hoe hy sy troeteldiere versorg.
FOTO Jozua Malherbe

Vroegoggend vanuit ons Airbnb-plek geneem. Ons uitsig oor die Bosphorus-seestraat.
FOTO Jozua Malherbe

Ons laaste oggend. Opgepak, maar glad die reg om huis toe te kom nie. Dit was ’n baie spesiale tyd saam. Een wat ons nooit sal vergeet nie.

Ons laaste oggend. Opgepak, maar glad die reg om huis toe te kom nie. Dit was ’n baie spesiale tyd saam. Een wat ons nooit sal vergeet nie.