Foto: verskaf

Het jy gehoor?

Roxy Louw & Disney span saam – sy deel haar skoonheidswenke met ons

Die model en branderplankryer Roxy Louw is nou ook betrokke by Disney en die bekendstelling van die nuwe rolprent Teen Beach Movie. Roxy, wat die plaaslike gesig van dié fliek is, hoop die fliek sal jong meisies motiveer om die golwe op hul branderplanke aan te durf. Sy gesels met SARIE oor haar gunsteling-Disney-rolprent – én haar beste skoonheidswenke!

Hoe beskerm jy jou hare teen die son en see?
Ek hou daarvan om elke week vir ’n haarbehandeling te gaan. Dit hou my hare gesond.

En jou vel?
Ek smeer ’n goeie sonroom met ’n mat afwerking aan. Wanneer ek my wetsuit dra, smeer ek dit net aan my gesig en my hande, anders smeer ek dit aan my hele lyf. Dis nogal snaaks, want as die room aan my hande is, gly ek maklik op my branderplank!

Hoe verskil jou skoonheidsroetine as jy in Johannesburg is?
Omdat die humiditeit in Kaapstad soveel hoër is, is my vel heelwat droër as ek in Johannesburg is. Ek moet baie meer bevog as ek hier is. Die vogtige weer in Kaapstad laat my hare ook baie meer krul. In Johannesburg hoef ek nie eens my warmyster te gebruik om dit reguit te hou nie, so ek is mal daaroor hier!

Hoe versorg jy jou vel wanneer jy vlieg?
Ek gebruik gesiglappies om my grimering af te was. Ek gaan slaap nooit met grimering op my gesig nie. Ek probeer ook om my grimering eenvoudig te hou. Ek wend min onderlaag aan, met maskara en ’n bietjie blosser.

Wat dra jy altyd in jou strandsak saam?
My sonbril, sonblok, musiek, ’n handdoek, water en lekkergoed of vrugte.

Watter skakering naellak is jou gunsteling vir jou hande?
Dit hang van my bui af. Ek hou van natuurlike kleure en ek is ook lief vir koraal.

Wat is jou beste skoonheidswenk?
Wanneer jy jou grimering aanwend, moet jy dit altyd in ’n opwaartse rigting doen. Jy moet byvoorbeeld as jy oogomlyner aanwend die streep in die buitehoeke van jou oë eerder na bo as na onder trek. Anders lyk dit of jou oë hang.

Wie is jou gunsteling-skoonheidsikoon?
Cindy Crawford, want sy het ’n baie klassieke voorkoms. Maar ek hou ook baie van Scarlett Johansson se styl, want haar voorkoms is jonk en modern, maar ook klassiek.

Wat is jou gunsteling-rolprent van Disney?
High School Musical en The Little Mermaid (Ariel was my inspirasie)!

‘Teen Beach Movie’

McKenzie, oftewel “Mack”, en Brady is ’n verliefde hoërskoolpaartjie wat hul somervakansie by die see op hul branderplanke deurbring. Voor haar ma se dood het Mack egter belowe om na ’n private skool te gaan en die tyd het aangebreek vir haar om weg te gaan. Voor sy en Brady mekaar finaal kan groet, gebeur daar iets onwaarskynliks – die paartjie beland in Brady se gunsteling-musiekblyspel, Wet Side Story.

Die fliek word 20 September om 17:00 op Disney Channel, DStv-kanaal 303, uitgesaai.

Kyk hier na die voorprent!