Francois Ferreira en Errieda du Toit van Huiskok Glanskok FOTO: Facebook

Het jy gehoor?

RSG groet Huiskok Glanskok

Ná byna 15 jaar maak Francois Ferreira en Errieda du Toit vandag klaar met hul kosprogram op RSG, Huiskok Glanskok. Maar Errieda se tot siens is nie finaal nie…

Errieda het met SARIE.com gesels oor haar nuwe program Die kos wat ons ken, ’n nuwe gereelde insetsel op Oggend op RSG.

“Huiskok Glanskok het die tyd gedien waarin hy was,” sê Errieda. Haar nuwe program gaan al hoe meer interaktief wees – iets wat nie altyd moontlik was met Huiskok Glanskok nie, omdat sy en Francois nie altyd saam in die ateljee kon wees nie.

“Maar glo my, as Francois [wat op George woon] ooit in die Kaap is, gaan ek hom by die ateljee insleep.”

Nadat mense gehoor het Errieda en Francois gaan nie meer saam op die radio wees nie, was die reaksie oorweldigend. “Jy raak deel van mense se roetine, deel van hul manier van doen. Iemand het gesê dit is soos om van ’n ou vriend afskeid te neem,” vertel Errieda wat sélf bietjie aangedaan raak.

“Die kos wat ons ken gaan handel oor daardie gunstelinge in ons kombuis. Dit is steeds resep-gedrewe, maar die gesprek gaan wees oor waar die kos vandaan kom. Soms gaan ons ver terug, soms net na die 70’s of 80’s.”

Hier is wat Errieda en Francois vanoggend op die radio oor hul kos-verhouding van byna 15 jaar gesê het:

“Ek sal die lag nooit vergeet nie,” het Errieda vanoggend op RSG vir Martelize Brink gesê. Sy het vertel dat sy, buiten Francois se koffie-en-dadel-tagine, altyd die heerlike speelsheid, vrolikheid en gelag van die afgelope 14 jaar sal onthou.

Tog beteken dit nie dat dinge altyd maklik was nie.

“Soms het ons mekaar byna met die koekroller bygedam,” onthou Errieda. Sy en Francois het vanoggend oor die radio vertel hoe hulle dikwels ’n mandjie met verrassings gekry het om in hul geregte te gebruik. En dán wou die kokke mekaar met die koekroller bydam.

Hulle het ook aan Martelize vertel van die tye wat die luisteraars vir hul gunsteling-kok kon stem. Dit was vir hulle swaar as die ander een wen. Francois het dikwels gewen, maar Errieda het darem ook gereeld die “kompetisie” gewen.

“En dan is ek in sak en as,” erken Francois, wat glo die beste deel van die afgelope 14 jaar is die kookboek, Huiskok Glanskok, wat hy en Errieda saam geskryf het.

huiskok glanskok boek

Errieda en Francois se radioprogram sou in Oktober 15 jaar oud gewees het. Hulle vergelyk dié tyd met ’n huwelik. “Ons kos-huwelik was van die beste,” het Francois vanoggend vir oulaas vir Errieda gesê.

Errieda se gereelde insetsel oor ons koserfenis begin volgende Woensdag op Martelize se program.

WAT DINK JY? WAT SAL JY ALTYD VAN HUISKOK GLANSKOK ONTHOU? Lewer kommentaar hier onder of op SARIE se Facebook– of Twitter-blad.