FOTO verskaf

FOTO verskaf

Het jy gehoor?

RSG se Martelize nou aktrise

Nog is dit het einde niet . . . Martelize Brink, wat soggens Oggend op RSG saam met Johan Rademan aanbied, het al gekajak na Robbeneiland, in Afrika gereis met haar rolstoel en die gorillas in Uganda besoek. En nou is sy besig om haar eerste kookboek saam te stel en hou sy haar lyf ook aktrise.

In Twee grade van moord, die rolprent met die ernstige tema van genadedood, speel sy saam met groot name soos Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Kim Cloete en Shaleen Surtie-Richards.

“Ek en Sandra het heerlik op die Oppiwater-bootreis gesels. Wat ’n wonderlike mens. Sy het gedink ek sal die rol as mentor vir Kim Cloete se karakter, Kari, die dokumentêre vervaardiger, goed kan vertolk.’’

Twee-Grade-van-moord

Martelize het dit baie geniet.

“Dis ’n interessante proses, baie anders as radio. Selfs die senuwees wat jy ervaar, verskil van dié van die regstreekse radio-element. En ek was maar lekker senuweeagtig. Op die filmstel is jy die ‘groentjie’ as radio-omroeper. Ek moes by die diep kant inspring en hoop vir die beste. My suster, Cheryl, is eintlik die aktrise in ons familie. Al wat ek kon doen, was om so voorbereid as moontlik te wees. Ek het seker gemaak dat ek my paar reëls vorentoe en agtertoe uit my kop uit ken . . .”

Haar karakter, die mentor, se rol was om Kari te bly motiveer om ’n dokumentêr oor ’n sielkundige (Sandra) te voltooi, ten spyte van tragedies wat twee karakters in die storie tref.

“Ek het dit geweldig geniet. Almal op stel was vriendelik, daar was geen airs nie. Hoewel ek hoofsaaklik saam met Kim verfilm het, het ek lekker met Marius en Sandra gesels en koffie gedrink. Kim is ’n enigmatiese mens en sy straal ’n sterk persoonlikheid uit. Haar egtheid op skerm vang jou nogal vas. Ek het ná dese soveel waardering vir al die detail wat by die verfilmingsproses betrokke is. Gerrit Schoonhoven, die regisseur, is só gemaklik, ’n sweetie pie.’’

FOTO: Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

 

Sou sy in nóg flieks of televisiereekse wou speel?

“’n Mens weet nooit wat die toekoms inhou nie. Dit is nie iets wat ek najaag nie. Ek geniet die anonimiteit van die radio, maar ek waardeer geleenthede en sê selde nee vir ’n geleentheid.”

Sy het heelwat geleer uit dié ondervinding, onder meer hoe om ongemaklike oogkontak aan die einde van ’n toneel te hou.

“Dit is vreeslik! Ek is ook minder selfbewus en kan myself met groter oorgawe ‘oorgee’ en gemaklik in my liggaam wees. Die kamera voeg inderdaad sowat 15 kg by. Ek het ook geleer ons het wonderlike talent in Suid-Afrika.”

Die tema van die rolprent, genadedood, is ’n tameletjie en het haar ook aan die dink gesit. “Dit is ’n emotiewe, moeilike onderwerp. Dit is ’n intens subjektiewe besluit en ek oordeel geensins iemand wat dit doen nie. Om vanuit ‘n magtelose posisie te moet toesien hoe iemand ly . . . elke ou moet self besluit.’’

Martelize besef nou: om films te maak is nie vir sissies nie. “Ek kon nie wag terwyl ek die film gekyk het vir my tonele om net verby te wees nie. Ek het elke keer gecringe van skaamte.”

* Die rolprent wys tans in teaters landwyd