logo_75_jaar_geel
Het jy gehoor?

RSG vier 75 jaar: Haas Das, Niekie ook terug

Op Donderdagmiddag 25 Oktober begin die vieringe met die nuusbulletins in Tjailatyd, wat deur Haas Das en Riaan Cruywagen gelees word. Donderdagaand is daar ‘n heruitsending van NP van Wyk Louw se Dias. Dié radiodrama is 60 jaar oud en is in 1964 deur die regisseur Monica Breedt opgeneem, met spelers Jan Schutte, Gerhard Viviers, Mike Heine, Roelf Jacobs, Kosie Eloff en Emgee Pretorius.

Vrydagoggend om 08:00 is Max du Preez die gas van Lynette Francis op Praat saam. Du Preez was die voorloper van regstreekse geselsradio met Klip in die bos. En in die middag om 14:00 is Niekie vir ‘n uur terug met Sê wie.

Vrydagoggend gaan Monitor ook op hul spore terugloop met ‘n oorsig van die begin van Monitor en jy sal weer die stemme hoor van ou bekende medewerkers soos Tossie Lochner, Italië, en Glenys Sugarman, Tel Aviv. Historiese almanak van Albe Grobbelaar gaan ook uitgesaai word, asook ‘n program oor geliefde kenwysies die afgelope 75 jaar.

Ander hoogtepunte om na uit te sien is die klokkespel vanuit die Uniegebou in Pretoria, uittreksels uit humor-programme soos Leon Schuster se Vrypostige mikrofoon en Cobus Robinson se program Skote Petoors. Staal Burger wys ook weer sy staal!

Vrydagmiddag saai hulle ‘n episode van die gewilde Du Plooys van Soetmelksvlei uit. Siembamba maak ook ‘n draai. Musiekposbus is daar en so ook Esmé Euvrard met Aan die pasiënte.

Oud-Vrouerubriek-aanbieders Verna Vels en Mari Cronje kom bied saam met Martelize Brink en Johan Rademan Oggend op RSG aan en Iris Bester skuif weer agter die Spektrum-mikrofoon in. 

Spits jou ore ook van Vrydag af vir onderhoude met van die oud-omroepers: Marius du Plooy, Dawid van Lill, Nick de Jager, Gerda Coetzee, Anita Armand, Monica Breedt, Dolf van Niekerk, Corrie Huyser, Daniel Hugo, Barbara Jooste, Jan Snyman en Pieter de Bruyn.

En die Treffersparade-koning van ouds, Edwill van Aarde, is Derrich Gardner se gas in die gewilde VAT 5 in Brêkfis met Derrich Saterdagoggend 27 Oktober. ‘n Interessante en insiggewende sportmiddag lê ook voor met insette van oud-sportkommentators en -sportaanbieders.

Op die verjaardagdag, Saterdag, sal jy Afrikaanse liedjies hoor wat oor die jare oor die radio gespeel is, met Anneli van Rooyen, Bles Bridges, Cora Marie, Lance James, Chris Blignaut en nog baie ander.

Jy gaan ook die kans kry om munt te slaan uit RSG. Koos word Vrydag of Saterdag gevind. En die een wat hom kry, gaan groot geld wen. Nog ‘n kontantprys van R10 000 word weggegee, asook RSG-geskenkpakke.

As jy wil saam feesvier en saam nostalgies raak, bly dan met jou oor teen jou radio, of selfoon of rekenaar van Donderdagmiddag 25 Oktober tot Saterdag 27 Oktober.