rwc
Het jy gehoor?

Rugbywêreldbeker 2015: Praat saam met Bennie Fourie

Vroue is lank nie meer net die draers van tjip & dip wanneer dit by rugby kom nie. Vroue sit skouer aan skouer en geniet deesdae rugby saam met die mans. Maar tussendeur ma-wees en die korporatiewe wêreld oorneem, is daar nie altyd tyd om al die Wêreldbeker-aksie te volg nie.

Hiermee dan ’n kort rubriek om jou op hoogte te hou van die Groen en Goud se vordering:

19 September 2015 – Springbokke vs Japan (32-34)

Rugby het die manier om ’n naweek te maak of breek. Wen die Bokke goed, dan proe ’n garage pie soos herderspastei. Verloor die Bokke, dan proe die bes-gemarineerde filet soos ’n skoensool. Ná hierdie naweek proe ek niks.

Die mees ervare Bokspan in die geskiedenis van Suid-Afrika het verloor teen Japan, wat 13de op die wêreldranglys lê.

Japan? Ja, Japan. Met ’n bynaam soos die Brawe Bloeisels kan ek dink dat die Bokke hulle misgis het en die Japanse span vir ’n blommeskou kon aansien. Maar ’n begeesterde Japan was uit die staanspoor lastig vir Suid-Afrika en soos ’n stoute verkoue kon ons nie van hulle afstand kry op die telbord nie.

Afrigter Eddie Jones het presies geweet waarmee die Bokke gaan kom. Dit was nie moeilik nie, want die Bokke se spelpatroon was baie soos die pannekoek op ’n kerkbasaar – jy weet presies wat jy gaan kry.

’n Hartseer dag vir Suid-Afrikaanse rugby. Ek glo geen speler of afrigter geniet om só te verloor nie, niemand doen dit aspris nie. As hulle dit kan regkry om hul koppe te lig, hard met mekaar praat en ’n paar jonger skuiwe maak, kan hulle dié verloor omswaai.

Twee woorde som die Bokke se houding op: ‘Maki Saki’… Alle krediet aan Japan!

’n Paar Saam-Praat-feite:

  • Dit was die eerste kragmeting tussen SA en Japan.
  • Eddie Jones was afrigter van die Australiese span wat die Wêreldbeker-eindstryd in 2003 gehaal het en hulp-afrigter vir die Bokke toe ons die 2007-Wêreldbeker gewen het.
  • Dit was die Bokspan wat altesaam al in die meeste toetse gespeel het.

Bennie Fourie is ’n skrywer en akteur. Hy is tans te sien in Die Pro. Kyk na die lokprent van dié Afrikaanse film HIER.

bennie