rwc
Het jy gehoor?

Rugbywêreldbeker 2015: Praat saam met Bennie Fourie – Die Bokke se kans vir die Beker is verby

Vroue is lank nie meer net die draers van tjip & dip wanneer dit by rugby kom nie. Vroue sit skouer aan skouer en geniet deesdae rugby saam met die mans. Maar tussendeur ma-wees en die korporatiewe wêreld oorneem, is daar nie altyd tyd om al die Wêreldbeker-aksie te volg nie.

Hiermee dan ’n kort rubriek om jou op hoogte te hou van die Groen en Goud se vordering:

19 September 2015 – Springbokke vs Nieu-Seeland (18-20)

Hoe berei jy jouself voor om teen die All Blacks te wen? ’n Span wat slegs drie toetse verloor het sedert 2011. ’n Span wat die huidige Wêreldbeker-kampioene is. ’n Span so selfversekerd en gewoond aan wen dat hulle verbaas sal wees as hulle die lotto speel en verloor.

Bogenoemde feite maak wel nie die Suid-Afrikaanse rugby-ondersteuners meer genaakbaar nie. Ons is moeilik. Almal is kenners. Mans wat nie ’n bos sleutels kan vang nie, verskree ’n Bok wat ’n bal aanslaan terwyl daar ’n 120 kg-blok spiere op hom afpen om sy kop af te tackle. Vroue wat nie weet wat die verskil tussen ’n losgemaal en ’n skrum is nie, skree op die TV en vloek die skeidsregters. Ons vat nie ’n verloor goed nie.

Maar toe die Bokke Saterdagmiddag op Twickenham op die veld uitstap om Nieu-Seeland aan te durf, kry ek die oorweldigende gevoel dat hierdie span reeds genoeg gedoen het om die moeilike Suid-Afrikaanse rugbypubliek kop omhoog tegemoet te stap. Ja, ons spelpatroon kort werk. Ja, ons speel nie die aanskoulikste hardlooprugby nie. Maar hulle het gebloei om tot by hierdie halfeindstryd te kom en om hier te verloor, is g’n skande nie.

Dit moet soos dood in die Bok-kamp voel. Nie net as gevolg van die verloor nie, maar ook oor die tot siens. Ons groet ’n paar ou geliefdes. Legendes soos Fourie du Preez, Victor Matfield, Jean de Villiers en moontlik nog ’n handjievol seniors hang heel moontlik hul toets-tokse op ná die toernooi. Dit gaan skoon vreemd voel om nié hul name uit volle bors in die land se woonkamers te skree nie.

Maar voor ons die Bokke se Wêreldbeker heeltemal afsluit, moet hulle eers met Argentinië meeding om die derde plek. Waarom die Internasionale Rugbyraad nie dié wedstryde skrap nie, verstaan ek nie. Dis soos om met ’n meisie uit te maak, maar jy moet steeds haar metgesel wees by ’n troue … Dis ongemaklik, maar jy’t steeds die moontlikheid om te score.

’n Paar Saam-Praat feite:

  • Nieu-Seeland en Australië, die twee spanne wat geen groepwedstryde in die toernooi verloor het nie, speel in die finaal.
  • Dis die eerste keer in jare dat die twee spanne met die meeste punte op die Wêreldrugby-ranglys mekaar in die eindstryd pak.

LEES wat het Bennie oor SA se nederlaag teen Japan geskryf

Bennie Fourie is ’n skrywer en akteur. Hy is tans te sien in Die Pro. Kyk na die lokprent van dié Afrikaanse film HIER.

bennie