rwc
Het jy gehoor?

Rugbywêreldbeker 2015: Praat saam met Bennie Fourie

Vroue is lank nie meer net die draers van tjip & dip wanneer dit by rugby kom nie. Vroue sit skouer aan skouer en geniet deesdae rugby saam met die mans. Maar tussendeur ma-wees en die korporatiewe wêreld oorneem, is daar nie altyd tyd om al die Wêreldbeker-aksie te volg nie.

Hiermee dan ’n kort rubriek om jou op hoogte te hou van die Groen en Goud se vordering:

19 September 2015 – Springbokke vs Samoa (46-6)

Jy kry sekere weke wat alles net perfek gaan, asof die verkeersligte spesiaal vir jou groen slaan, waar ’n oop parkering reg voor die ingang vir jou wag en jy ’n ou R50-noot in jou chino ontdek… Hierdie was nie so ’n week vir die Bokke nie. Ná die skok-nederlaag teen Japan het die tonge op sosiale media erger geklap as ná ’n staatsrede. Jean de Villiers het die week as die moeilikste rugbyweek van sy lewe bestempel en Heyneke Meyer se fronsplooie lyk of dit basies getatoeëer is.

In vele opsigte was Saterdag se wedstryd vir die Bokke teen Samoa ’n uitklopronde. Nie oor hulle in die kompetisie gaan bly of nie, maar of hulle die land se volgehoue steun gaan behou. Ná nederlae teen Argentinië voor die Wêreldbeker en die Japanse ramp, het ondersteuners hoop begin verloor en het patriotiese geloof in die Bokke verander in versigtige pessimisme.

Die hele rugbywêreld weet dis ’n bietjie lekkerder om volspoed in ’n staalhek vas te hardloop as om teen Samoa te speel. Hierdie bonatuurlike atlete van die klein eiland in die Stille Oseaan is kliphard, rats en passievol. Maar van die afskop af kon jy nie die Bokke se knieë sien nie. Hulle het hul sokkies ordentlik opgetrek.

Die Bokke was hul ou self: begeesterd, vol vertroue en bo alles, ’n span.

Afgesien van die 6 drieë wat die Bokke ingeryg het, was ons verdediging opmerklik. Ons het nie ’n enkele drie afgestaan nie. Die seniors het veral hand opgesteek en daarom verdien hulle die volgende oordadige vergelykings …

Victor Matfield was besiger as ’n CNA met ’n Back-To-School-uitverkoping. Schalk Burger was hongerder vir die bal as Hykie Berg op Survivor. Fourie du Preez se verspreiding was vinniger as salon-skindernuus; en JP Pietersen se afronding was Drakensbergseunskoor-gehalte.

’n Vertoning om op trots te wees en genoeg om selfs ons moeilikste ondersteuners se koppe te swaai. Hierdie Wêreldbeker raak by die dag al hoe interessanter, ek mis nie ’n wedstryd nie … met die gevolg dat ek nie al my werk gedoen kr….

’n Paar Saampraat-feite:

  • Jean de Villiers het sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig ná hy die naweek ’n kaakbesering opgedoen het. ’n Hartseer dag vir Bok-rugby. Jean was die laaste 13 jaar ’n Springbok. Dertien jaar… Dis so lank soos ’n graad 7-kind al leef! Hy tree uit as die Bok met die vierde meeste toetswedstryde agter sy naam nóg en ’n sportman geliefd onder almal. Na alle waarskynlikheid sal Victor Matfield nou die leisels oorneem.
  • Victor Matfield is die oudste speler in die 2015 Wêreldbeker-toernooi.
  • Die Bokke speel volgende Sondag teen Skotland, wat nog nie ’n wedstryd in dié toernooi verloor het nie.

LEES wat het Bennie oor SA se nederlaag teen Japan geskryf

Bennie Fourie is ’n skrywer en akteur. Hy is tans te sien in Die Pro. Kyk na die lokprent van dié Afrikaanse film HIER.

bennie