Het jy gehoor?

Ryan Reynolds se Kaapstad-fliek begin draai

Verlede jaar was die Moederstad die tydelike tuiste van twee groot Hollywood-name, Ryan Reynolds en Denzel Washington. En die strate van Kaapstad was soos ‘n groot “speelgrond” vir die filmspan. Opwindende jaagtogte is in die Kaapse strate geskiet en die Kunstekaap-teater is “verander” in ‘n Amerikaanse konsulaat met ‘n Amerikaanse vlag wat voor die gebou wapper. Plaaslike inwoners het die sexy Ryan by die bekende The Old Biscuit Mill in Woodstock en ook op die Franschhoekse wynlandgoed La Motte opgemerk – aan die arm van ‘n platinablonde model wat op daardie stadium sy meisie was. Die opwinding was groot!

Nou is die fliek op die punt om in Amerika én plaaslik uitgereik te word. Ryan Reynolds het tydens Dinsdag 7 Februarie se onderhoud met aanbieder Matt Lauer op die Amerikaanse oggenprogram Today meer vertel oor die fliek.

Reynolds beskryf Safe House as intens. Hy speel die rol van die CIA-agent teenoor die skurk, vertolk deur die Oscar-bekroonde Denzel Washington. En hy’t selfs per ongeluk die Hollywood-legende ‘n blou oog gegee. Gelukkig het People se Sexyste Man van 2010 nie veel beserings oorgehou van dié aksiebelaaide tonele nie.

“Die fliek sal jou op die punt van jou stoel hou,” verklap Ryan.

Kyk die lokprent hier. Jy sal die Kunstekaap-teater, De Waal-rylaan met die skilderagtige uitsig op die stad en Tafelbaai-hawe, die jaagtonele deur Adderleystraat, ‘n ongelooflike helikopter-uitsig oor Tafelberg, die stadskom en die Kaapstad-stadion kan eien.