Marguerite Wheatley
Het jy gehoor?

Marguerite Wheatley: Oos, wes, tuis bes!

Egoli se Weskus-girl bly en werk nou dalk in Los Angeles, maar Marguerite Wheatley het onlangs ’n Kaapse draai gemaak …

Marguerite Wheatley – aktrise, sepiester en TV-aanbieder - het SA trots gemaak toe sy teenoor Matt Damon in die internasionale fliek Invictus gespeel het. Daarna was sy vir 2 jaar Frankryk toe voordat sy in Augustus 2012 Amerika toe getrek het.

Maar of dit in Suid-Afrika, tussen die Franse of in die VSA is – dié girl sit nooit stil nie!

Sy was van einde Mei terug in SA om aan die plaaslike rolprent Knysna te skiet. Sy het gister weer op die vliegtuig geklim terug Los Angeles toe, maar eers het sy met SARIE.com gesels.

Jy het al in Frankryk en Amerika gewoon. Sal ’n oorsese land ooit jou permanente tuiste kan wees?

Weet jy, ons is mos jonk en hou van travel. Daarom was Frankryk en Amerika vir my soos ’n lewenservaring – nóg ’n manier om my skills te slyp. Jy leer so baie oorsee. My doel is maar om eventually huis toe te kom … so gou moontlik. In hierdie stadium moet ek net nog so 3 jaar in Amerika wees om burgerskap te kry.

Wat is die eerste ding wat jy doen as jy in SA land?

Dit is net so lekker om by die lughawe te kom en óns mense te sien! Die eerste ding wat ek altyd doen as ek terug in Suid-Afrika is, is om vir die lughawe-personeel ’n groot vet druk te gee.

Wat maak die rol in Knysna so spesiaal dat jy daarvoor teruggekom het SA toe? 

Ek dink dit is ’n verskriklike mooi verhaal. Ook omdat dit in Knysna geskiet is, is dit so spesiaal – Knysna is een van die mooiste plekke in Suid-Afrika!

Boonop speel ek saam met groot akteurs soos Neels van Jaarsveld, Terence Bridgett en Shaleen Surtie-Richards. Ek het al saam met Shaleen gewerk op Egoli, daarom was ek baie opgewonde om haar weer te sien. Vir my was dit soos om huis toe te kom en grounded te voel.

FOTO: SARIE

FOTO: Phyllis Green

Som jou Knysna-byspelers in ’n paar woorde op … 

Neels van Jaarsveld: Droë sin vir humor

Cintaine Schutte: Stomgeslaan deur haar talent

Shaleen Surtie-Richards: Oh my word, wow! Shaleen is ’n instansie

Flip Theron: Rustig en wys

Terence Bridgett: Turkish Delight, in sy rooi-pienk pak. Hy stel in almal belang.

Vertel meer oor jou karakter en die fliek

Ek speel ’n Suid-Afrikaanse meisie wat in Switserland gaan studeer en op ’n prins verlief raak. Maar vinnig besef sy prinses-wees kom met baie druk.

Sy vlug terug SA toe en kruip weg in haar ouers se vakansiehuis op Knysna. Hier knoop sy ’n vriendskap aan. En dié man neem haar terug na haar wortels: die lekkerte van huis toe kom en jou eie taal praat … hy maak haar weer mens.

Die fliek speel in die somer af, tóg is dit in die winter geskiet. Hoe was die ervaring?

Ek het vir myself gesê: ek kan dit handle, ek is van die Weskus. Maar teen die einde van die produksie kon ek en Neels dit nie meer hou nie. Ja, almal kry koud, maar nie almal loop rond in kort rokkies en bikini’s nie! Ek het vir meer as 4 weke elke dag net koud gekry.

So hoekom nie net gewag vir die somer nie?

In die somer sou dit chock-a-block gewees het. In die winter is Knysna stil en rustig, daar was plekke is beskikbaar en ons kon sonder onderbrekings skiet.

Jy het in die verlede gesê dat Clint Eastwood (regisseur van Invictus) baie vryheid aan sy akteurs gee. Is Knysna-regisseur André Veld dieselfde?

Ja en nee. Clint Eastwood is ’n gevestigde regisseur en hy werk al vir 30 jaar met dieselfde span. As hy go sê (hy sê nie eers action nie), dan verwag hy jy moet weet wat jy moet doen.

André het ons baie vryheid gegee, hy het gesê ons kan van die draaiboek dwaal. Tog het hy ook vir my baie leiding gegee en my karakter se emosionele toestand in ’n konteks geplaas. Hy is ’n jong regisseur, maar hy is up and coming!

FOTO: SARIE

FOTO: Phyllis Green

Jy ly aan hoogtevrees, maar spring saam met Neels van ’n brug af.

Ja, ek is bang vir hoogtes. Maar ek weet as dit vir ’n movie is, maak dit nie saak nie, jy moet dit maar doen. Ek dink ek het Neels se hand amper vergruis, want ek het sy hand só styf vasgehou.

Wie soen beter: Matt Damon of ons Neels?

Uhm, sjoe. Laat ek gou dink. Neels. Ja, Neels. Hy vry baie lekker. Ek en Neels het ’n baie lekker chemistry wat baie refreshing is.

*Knysna begin 26 Desember in teaters draai.

Nóg oor Marguerite Wheatley op SARIE.com