sr1301_avonturiers_10_
Het jy gehoor?

SA avonturier Riaan Manser se meisie vertel

Vandag is Riaan een van Suid-Afrika se mees waaghalsige avonturiers. Buiten sy fietstoer, het hy ook in 2009 manalleen in ’n kajak om Madagaskar geroei, en weer onlangs om Ysland, dié keer saam met spanmaat Dan Skinstad, broer van die oud-Springbok-rugbyspeler Bobby Skinstad.

Riaan was nog altyd iemand met baie planne, maar dit het nooit gerealiseer nie, vertel Vasti. “Toe hy op ’n dag sê hy wil op ’n fiets om Afrika ry, het ek gedink dié idee sal oorwaai. Ek het eenvoudig gemaak asof dit nie gaan gebeur nie, maar toe ek weer sien, was hy op pad. Ek wou nie hê hy moes dit doen nie, maar jy kan mos nie iemand se lus blus en vir hom sê hy moenie!”

Riaan het beplan om sy fietstoer binne ’n jaar klaar te maak, maar die uitmergelende rit het hom uiteindelik langer as twee jaar geneem. “Dis maar goed ek het dit nie aanvanklik geweet nie, anders weet ek nie hoe ek dit sou hanteer het nie.”

Omdat Riaan net ’n jaar weg sou wees, het hulle nie planne gemaak om mekaar in dié tyd te sien nie. “Maar ná ’n jaar het Riaan my gebel en gesê hy het vir my ’n borg gekry om vir hom in Dakar, Senegal, te gaan kuier.Dit was so lekker!” Sy het ses maande later weer vir hom in Ethiopië gaan kuier.

Tydens Riaan se fietstoer het hy en Vasti gereeld gekommunikeer. “Jy dink mos dit is donker Afrika, maar om elke hoek en draai is ’n internet-kafee. Selfone is groot in Afrika, so ons kon dikwels gesels. Maar soms het daar weke verbygegaan dat ek nie van hom gehoor het nie. Dit het my mal gemaak.”

Een van die kere dat daar geen tyding van hom was nie, was toe rebelle in Liberië hom aangehou het. Vasti het eers daarvan uitgevind nadat hy vrygelaat is. “Dis maar goed so, want ek weet nie hoe ek dit sou hanteer het as ek dit moes uitvind terwyl hy nog in aanhouding was nie.”

Riaan se reis om Madagaskar was vir haar die senutergendste. “Ek was totaal naïef oor sy Afrika-toer. Ek het nie besef watter gevare daar gaan wees nie, maar met Madagaskar het ek geweet jy kan nie teen die see baklei in ’n kajak nie.My ma het vir my goeie raad gegee en gesê dit help nie om my te bekommer nie, want ek kan niks daaraan doen nie. Ek moet dit in die Here se hande laat. Hoewel ek steeds bekommerd was, het ek vertrou die Here sal hom veilig hou.”

Al bekommer sy haar dood, is sy trots dat Riaan hierdie avonture aanpak. “So baie van ons is bang om die dinge te doen wat regtig vir ons saak maak. Ek het die grootste bewondering vir Riaan. Hy gee nooit moed op nie en niks is vir hom onmoontlik nie.Waar ander mense vir jou die probleme uitwys, wys hy vir jou die oplossings.”

Mense vra gereeld vir Vasti hoe hul verhouding werk. “Vir my is ons verhouding normaal. Ons lewe saam was van die begin af soos dit nou is. Die basiese beginsels van ’n verhouding geld steeds: Jy moet mekaar liefhê, ondersteun en vertrou. Kyk, ek hou nie daarvan as hy weg is nie, maar dis nie nodig om mekaar die hele tyd te sien nie.”

Wanneer hy op sy avonture gaan, hou Vasti se werk as prokureur haar besig. Sy bring nou haar eie praktyk op Somerset-Wes op die been. Sy kuier ook gereeld by haar ouers of saam met vriende. En sy is lief daarvoor om bergfiets te ry.

“Ek is nie een vir ekstreme avontuur soos Riaan nie. Ek hou daarvan om aan die einde van ’n dag lekker warm te stort, en ek hou van luukshede,” lag sy.

Die grootste uitdaging is om in moeilike tye sonder hom te wees. “Ons het nog nie kinders nie, maar ons het troeteldiere. Toe Riaan in Afrika was, het een van ons honde doodgegaan. Ek moes ons hond toe op my eie begrawe. Dis moeilik om sulke dinge alleen te doen. Dis vir hom net so moeilik, want hy wil dan by die huis wees. Ons is ook nie altyd saam op Kersdag nie en kan nie altyd ons verjaardae saam vier nie.”

Maar die wonderlike tye wat hulle saam het, maak op daarvoor, sê sy. “Ek besoek bestemmings wat ek nooit gedink het ek sou beleef nie. Riaan se werk maak dit moontlik. Ons het byvoorbeeld ’n paar jaar gelede in Groenland gaan kajak!”

Riaan: “Mense sien my altyd as die een met deursettingsvermoë en guts,maar Vasti is eintlik die een met hierdie eienskappe. Sy offer ’n standvastige lewe op deur my gevaarlike reise te ondersteun. Ek sou dit nie kon doen as sy nie vir my by die huis gewag het nie. Sy het my onvoorwaardelik lief en is bereid om my hardkoppigheid te hanteer. agter elke suksesvolle man is daar ’n vrou wat sterker is.”