sr1303_straatpraatjies_4_
Het jy gehoor?

Eksklusief: SA haarkapper vir Sienna Miller

Die TV-fliek The Girl (in Kaapstad verfilm) is onlangs vir drie Golden Globe-toekennings benoem. Dit gaan oor die vermaarde regisseur Alfred Hitchcock en sy stormagtige verhouding met die aktrise wat die hoofrol in sy fliek The Birds vertolk het, Tippi Hedren, gespeel deur Sienna Miller.

Toe Sienna se haarstileerder vasbrand, het ons eie Jaypee Malherbe, ‘n vryskut-haarkapper en -grimeerkunstenaar van die Moederstad, ingespring én sommer ook ‘n rol daarin vertolk! Die twee het dadelik gekliek. “Ons het ook ‘n konneksie, want haar ma, Josephine, is ‘n Suid-Afrikaner. Sy’s net fabulous!”

Sienna as Tippie Hendren in die fliek 'The Girl'

Hy vertel vir SARIE van sy ervaring op stel.

1. Hoe is Sienna?

Sy is ’n absolute perfeksionis wanneer dit kom by haar werk. Ons het ook ’n konneksie, want haar ma, Josephine, is ’n Suid-Afrikaner. So Sienna se wortels is in Suid-Afrika. En ná die fliek geskiet is, het ek selfs ’n oproep gekry om te sê Sienna het gevra of ek asseblief haar hare sal droogblaas vir haar vlug Londen toe!

2. Hoe het dit gebeur dat jy Sienna se hare stileer?

Ek het eers net die ekstra’s op die stel se hare gedoen, maar toe kon Sienna se haarkapper weens omstandighede nie meer haar hare stileer nie. En toe sê hulle vir my ek moet dit doen!  Die fliek speel af in 1962, en ek het in 1964 begin leer hoe om hare te doen. So ek het ook geweet watter style perfek gaan werk vir die era.

3. Watter rol het jy in dié fliek vertolk?

Ek speel Tippi se grimeerkunstenaar op die stel van The Birds. Die vervaardigers het van die begin af gesê dat hulle my ook graag in die fliek sal wil hê. In die toneel waarin ek is, sit ek vir Sienna ’n baie helder pienk lipstiffie aan waarvan Hitchcock glad nie hou nie!

4. Wat is die lekkerste daarvan om op die stel van ’n internasionale fliek te werk?

Oorsese mense waardeer ons verskriklik, hulle is mal oor Suid-Afrikaners.

5. Het daar iets baie snaaks gebeur toe jul verfilm het?

My een voortand het gebreek ná ek op ’n baie taai toffie gebyt het! Boonop het ek die tand nog ingesluk ook! Ek praat gewoonlik baie, maar tóé is ek tjoepstil. Ek wou nie hê iemand moet die stukkende tand sien nie! Gelukkig kon ek dit laat regmaak.

Sienna Miller agter die skermsSienna Miller se gestileerde hare op stelFoto's van Sienna se hare