FOTO Stephane Cardinale/People Avenue

FOTO Stephane Cardinale/People Avenue

Het jy gehoor?

SA Marsvrou praat met jeug

“Dit is noodsaaklik dat die nuwe generasie groot droom en bydra tot die wetenskap en tegnologie. Dít is hoe die mensdom gaan voortbestaan.”

Só glo dr. Adriana Marais, blond, beeldskoon, briljant en een van die laaste honderd wat gekies is vir die wêreldwye Mars One-projek. Dié kwantumfisikus hoop om uiteindelik as een van die finale 24 mense gekies te word wat in 2026 na die Rooi Planeet vertrek om hulle daar te gaan vestig.

Sy gaan op Jeugdag (Donderdag, 16 Junie) op versoek van Meta Economic Development Organisation (MEDO) met sowat 150 hoërskoolleerders van Kaapstad gesels om hul STEM-vaardighede (dit staan vir science, technology, engineering en maths) te verbeter. Dit staan bekend as die MEDO SPACE-program en word deur die organiseerders as ’n soort intensiewe ruimte-bootcamp beskryf.

“Die jong vroue wat aan die program deelneem, wys ons reeds hoe om dié ideale te bereik deurdat hulle onder meer aangemoedig word om self robotte (rovers) te programmeer. Hulle sal ook later vanjaar deelneem aan die lansering van die eerste private Afrika-satelliete. Ek is so trots op hulle en dit is ’n eer om deel te wees van die projek,” sê sy.

Sy glo dit is jou verantwoordelikheid om jou kennis te deel. “Terwyl ek op aarde is, wil ek aktief deelneem aan die bevordering van wetenskap en ruimte-verkenning. Ek is ook ’n spesialisprojek-koördineerder van die Stigting vir ruimte-ontwikkeling in Suid-Afrika, ’n opwindende inisiatief wat deel is van die Africa2Moon-projek. Ek hoop deur my drome met die volgende generasie te deel, kan ek ’n klein rolletjie speel om jong mense betrokke te kry in die wetenskap. Sodat hulle ook altyd kan glo in Nelson Mandela se woorde: It always seems impossible until it’s done.’’ Sy glo mense sal oor twintig jaar op Mars woon.

“Wêreldkwessies staar ons in die gesig en die wetenskap en tegnologie kan ons help om dit op te los.’’ Sy glo ons het meer wetenskaplikes en ingenieurs as ooit tevore nodig.

’n Woordvoerder van MEDO reken dr. Marais is die ideale rolmodel om jong vroue te inspireer. “Sy wys letterlik jy kan enigiets bereik – the sky is the limit.”