Het jy gehoor?

SA model Katryn Kruger in nuwe internasionale advertensieveldtog

SA model Katryn Kruger het nóg ’n spog-veldtog losgeslaan. Dié keer vir die luukse handelsnaam Dior.

Katryn het Sondag twee foto’s van haarself in die splinternuwe veldtog op Instagram gedeel. “Só gelukkig en trots,” het sy onderaan een van die foto’s gesê. Sy is deel van Dior se Capture Totale One Essential-veldtog.

Dior se Capture Totale One Essential is ’n anti-verouderingsroom wat gifstowwe verwyder en jou vel nuut en blink maak. Jy wend dit voor jou velsorgroetine aan.


Katryn ontmoet Prins Harry!

Katryn is groot in die modewêreld. Sy was reeds voorheen in ’n advertensie vir Dior Eyewear te sien en het ook in advertensieveldtogte vir die modehuise Prada en Oscar de la Renta verskyn.

 

Haar sukses is die produk van harde werk.

Dit alles nadat sy 18 jaar gelede haar lyf die eerste keer model gehou het. Sy is in 1996 vir Vroue-Burger se Moedersdag-modestorie by ‘n mallemeule afgeneem toe sy skaars ’n jaar oud was. Haar modelloopbaan het vlam gevat toe sy vier jaar gelede in ’n Kaapse winkelsentrum deur ’n modelwerwer raakgesien is. Sy voltooi tans haar laaste matriekvakke terwyl sy plaaslik en internasionaal modelwerk doen, het sy vroeër vanjaar aan SARIE.com gesê.

Dís wat Katryn vroeër vanjaar nog te sê gehad het.