FOTO Phyllis Green

FOTO Phyllis Green

Het jy gehoor?

SA Olimpiese ster vind geluk

Die spiesgooier Sunette Viljoen wat SA by die Londense Olimpiese Spele teenwoordig het, is in ’n nuwe verhouding met die eNuus-nuusleser LiMari Louw, berig Volksblad.

Volksblad berig dat Sunette glo dat die vierde plek by die Spele haar op ’n pad geplaas het wat haar en LiMari bymekaar gebring het. Sunette het die nuus van hul verhouding op haar Facebook-blad bekendgemaak. Sy skryf daarop:

Soos julle almal weet het ek verlede jaar 4de geëindig by die olimpiese spele wat vir my een van die mees emosionele tye van my lewe was. 
 
Ek het ’n diep seer gehad, ’n seer wat ek gewonder het of dit ooit gaan genees. 
 
Dit was ’n uitslag wat my heeltemal verpletter het, want dit was so naby, maar tog buite die bereik van ’n medalje. In ’n oogwink was alles verby.
 
Op 15 Augustus 2012 het my pad met LiMari Louw s’n gekruis. 
 
Ons het geen twyfel dat God ons presies op daardie dag vir mekaar gestuur het nie en soos hulle sê liefde kom soos ’n dief in die nag en die hart laat hom nie voorskryf nie.
 

Sunette het verlede jaar ná die Olimpiese Spele eksklusief met SARIE gesels oor haar teleurstelling met haar 4de plek by dié Spele. Hier is ’n uittreksel daarvan:

’n Glimlag so helder soos die son, ligte en helderpienk sterretjie-oorbelle is die eerste wat jy van Sunette Viljoen raaksien.

Dít en die stewige boarmspiere wat haar gestreepte top laat bult.

[...]

Nieteenstaande die teleurstelling in Londen is Sunette, wat nou hier in die tuin van ’n restaurant in Linden, Johannesburg, sit, vanjaar tweede op die wêreldranglys van vrouespiesgooiers.

As dit van haar afhang, gaan sy egter nie meer lank die naasbeste wees nie. In Sunette (sy het op
 6 Oktober 29 geword) se hart brand die onblusbare vlam van ’n wenner.

“Ek sal die wêreld wys ek is die beste,” sê sy en haar groen oë blink. “Ek sien myself as die wêreld se nommer een. Ek glo en vertrou met my hele hart en siel dat ek die wêreldrekordhouer [72,28 m] sal word. Dit gaan oor karakter toon, oor wen, om myself weer te bewys.

[…]

Sunette het die
 dag nadat sy aan die
 Spele deelgeneem het, teruggevlieg. “Die
 volgende dag, ’n Saterdag,
 was dit weer ek en my
 spies. Ek het daar op die 
veld só gehuil en gedink,
 hier is ek weer terug 
op die oefenveld en die medaljewenners is seker 
babelas van feesvier. Ek 
het soveel meer werk as 
hulle ingesit, net om terug te kom.”

Kort daarna het sy aan drie Diamantliga-byeenkomste in Europa deelgeneem. “Ek het besef Londen
 is verby, ek kan dit nie verander nie. Ek het my kop opgetel en die lewe waterpas in die oë gekyk.

[…]

Om internasionaal mee te ding moet Sunette ook sielkundig sterk wees. “Ek hou my kop skoon en omring myself met positiewe mense. Ek self is gelukkig en hou van lag en grappe maak. Ek glo ’n mens moet jouself wees.

“Wanneer ek oorsee gaan deelneem, sit my ma-hulle my hier op die vliegtuig en ek moet vir drie, vier weke op my eie voete staan. Ek klim in Europa af met my rugsak, skootrekenaar, tas en spiese, en moet self met treine en busse regkom.

“Ek het al soveel alleen beleef. Jy verloor en jy wen op jou eie. Dis net jy wat jouself oordeel, wat kan sê of jy jou bes gedoen het.

“As dit vir my bestem is om in
 Rio te wen sal dit gebeur. As dit nie gebeur nie, ook goed. Solank ék weet ek het my bes gedoen . . .”

Uit: SARIE, November 2012 deur Mari Opperman

Lees die volledige berig op Volksblad se webblad.