FOTO: Willem Lourens

FOTO: Willem Lourens

Het jy gehoor?

SA se onstuitbare Shaleen Surtie-Richards

Sy is byna 60, maar Shaleen Surtie-Richards het die passie van ’n nuweling-aktrise. En die pryse rol steeds in. As deel van dié jaar se US Woordfees kan jy haar ook in Siener in die Suburbs vanaf 6 tot 8 Maart by die Spier-amfiteater, net buite Stellenbosch, gaan kyk.  

Die aktrise Shaleen Surtie-Richards is vrek besig. Sy woerts tussen Johannesburg en Kaapstad. Ek soek ’n afspraak en sukkel. Sy SMS: “ENIGSTE LOS DAG IS DIE 5DE [Desember]. Maar dit is sulke lekker publicity, ek wil dit nie mis nie … My hondjies gaan my al met die hand groet [omdat hulle my nooit sien nie].”

Toe ons uiteindelik op ’n snikhete Sondag by ’n gastehuis in Bellville ontmoet (tussen ’n laat ontbyt en ’n middagete-afspraak), praat sy dik stukke. Álmal is al uitgehonger vir haar aandag – vriende, familie en honde, Pokkels en Tatiana, twee malteespikanees-kruisings.

In die Suide, vertel sy, het haar speelvak in die drama Rondomskrik, gegrond op die wrede verkragting van Anene Booysen in 2013, November geëindig – en dit begin weer by die Woordfees in Maart op Stellenbosch. En in Johannesburg het sy einde verlede jaar aan ’n kontroversiële rolprent saam met die akteurs Marius Weyers en Sandra Prinsloo geskiet. (Sy kan nog nie verklap waaroor dit gaan nie.)

Gul, in ’n rooi geblomde bloes en jeans, sê sy haar nuwe lyf (sy het die laaste 18 maande 22 kg verloor) is te danke aan ’n dieetpil. “Jy weet mos van my stroke in 2012. Die engeltjies was om my bed … En ek is ’n diabeet. Ek moes gewig verloor, maar ek beveel nie ’n dieetpil aan nie. Nou is ek bang as ek die pil los, lyk ek binnekort soos ’n bus. Ek het mos hierdie binge-fases. Dan is dit biltong, of grondboontjies, wine gums. Hulle sê jy eet so baie as jy min seks het. Stres maak jou glo maer. As dit so is, moes ek al deurskynend gewees het!

Shaleen steek ’n sigaret op. Sê dan verskonend: “Ek sukkel om op te hou, maar weet ek moet!” Sy is op ’n lekker plek in haar lewe. By die Woordfees speel sy ook in die eerste volledige bruin rolverdeling van P.G. du Plessis se toneelstuk Siener in die suburbs.
Verbaas oor my vraag: “Agge nee, waaroor die bohaai? Eerste bruin cast se voet. Moet mense nie nou al aan sulke dinge gewoond wees nie?”

Sy is ook opgewonde om deel te wees van die Afrikaanse fliekbedryf wat blom. Sy het verlede jaar saam met onder andere Marguerite Wheatley en Neels van Jaarsveld aan die romantiese komedie Knysna, wat in Desember in teaters te sien was, geskiet.

Sy en haar goeie pêl Steve Hofmeyr het pas aan Treurgrond, wat in Mei uitgereik word en oor plaasmoorde gaan, verfilm. “Dis geskiet net buite Johannesburg, op een van die netjiesste plase wat ek nog gesien het.”

En in Januarie het sy plig en plesier gekombineer op die passasierskip MSC Opera se Love Jazz Cruise, ’n vaart van drie dae tussen Kaapstad en Mosselbaai, waarop sy een van die seremoniemeesters was. Vandeesmaand (9 tot 13 Maart) is dit weer so, op ’n vaart van Durban na die Portugese Eilande in Mosambiek, met RSG en Lefra se Oppiwater Kunstefees. Sy gaan dan ook twee opvoerings van die toneelstuk Shirley Valentine gee.

Sy lag graag en gereeld uit die maag uit – maar dis nie asof sy sonder sorge deur die lewe huppel nie.

Elke dag nog mis sy haar ouers. Tannie Sakkie (gedoop Ellen) is verlede Februarie op 82 oorlede. Pa Hokkie moes sy in 2000 groet. Shaleen kry trane in haar oë as sy oor haar ma
praat. Sy gaan haal ’n briefie – met die vroulikste handskrif – wat haar ma vir haar geskryf het, en vertel meer van “Mammie, die lady”. Ook hoe trots sy op haar dogter was.

“Die ander dag het ’n joernalis my gevra wat ek vir Kersfees wil hê: ‘My ma en pa, vir ewig.’ ”

“Nee man, hoe laat jy my nou so grens as ek oor hulle praat.” Sy bly ’n oomblik stil en vee oor haar oë. Dan glimlag sy en die onderhoud skop af.

[...]

 

Donnalee Roberts Maart 2015

 

*Hierdie is ’n uittreksel uit ’n artikel wat in die Maart-uitgawe van SARIE gepubliseer is.

 

As deel van dié jaar se US Woordfees kan jy Siener in die Suburbs vanaf 6 tot 8 Maart by die Spier-amfiteater, net buite Stellenbosch, gaan kyk.