FOTO: verskaf / MNet

Het jy gehoor?

SA se tweede MasterChef: ‘Werklikheid het nog nie ingesink’

Suid-Afrika het gisteraand, 11 September, ‘n tweede MasterChef ryker geword. Kamini Pather het met dié titel weggestap.

Kamini, ‘n 29-jarige blogger van Kaapstad, en Leandri van der Wat van Mafikeng het sake in die finale episode van dié kookkompetisie uitgespook. En Kamini het as wenner uit dié stryd getree.

“Ek glo dit steeds nie! Dit is ongelooflik!” het Kamini aan SARIE.com gesê. Sy is nie seker of sy ‘n restaurant wil bestuur soos die vorige wenner Deena Naidoo nie, maar dié vrou het ‘n klomp planne om die media-landskap van kos in Suid-Afrika te verander.

“Ek ondersoek produkte wat dit maklik gaan maak om kosstories (dit sluit in resepte, foto’s en trends)  digitaal met mekaar te deel.”

En haar eie televisiereeks is ook ‘n groot moontlikheid.

Ná 28 episodes van kos-uitdagings en leerskole staan twee ervarings vir haar uit: Toe sy vir haar kosheld, die Kaapse sjef Luke Dale-Roberts, kon kook en toe Haile Gebrselassie, die legendariese Ethiopiese atleet, vir haar gevra het of hy een van haar borde kos kan opeet.

Kamini is ‘n kosblogger en -fotograaf en ook ‘n radio-omroeper. Hoewel sy nie geleentheid gehad het om te blog tydens dié kompetisie nie, sien sy uit om nou nuwe inhoud daarop te laai en só haar nuwe opwindende koservarings te deel.

Geluk, Kamini!

Wat wen sy?

Haar prys sluit in:

  • R40 000 kontant
  • ‘n Nuwe VW Golf 7
  • ‘n Week lange vakansie in die Seychelle
  • Woolworths-inkopies vir ‘n jaar ter waarde van R100 000
  • Wyn en ‘n wynkursus van Nederburg
  • En natuurlik, die eer om Suid-Afrika se tweede MasterChef te wees.

 

SARIE het in ons September-uitgawe met die susters Leandri en Seline gesels wat onder die top-3 van MasterChef geëindig het.

 

Lees die onderhoud in die tydskrif en kyk ook na die video-onderhoud hieronder: