FOTO: Johan Wilke

Het jy gehoor?

Sandra Prinsloo ontvang hoogste orde, maar bly nederig soos altyd

Sandra Prinsloo ontvang vanjaar die Nasionale Orde vir haar bydrae tot die kunste. Sy gesels met SARIE.com oor dié eer, ikoon-wees en die nuwe generasie aktrises.

Hoe voel jy oor die nuus dat jy die Nasionale Orde ontvang het?

Ek is natuurlik stomgeslaan en heimlik opgewonde, al wonder ek in my bed: “Haai, hoekom ek?”

Hoe dink jy het jy bygedra tot teater in Afrikaans?

Uhhmmm … Oor 45 jaar was daar seker ’n bydrae tot genot, hopelik denke en … ag ek weet nie!

Wat is die hoogtepunt in jou loopbaan?

Tot ’n mate is elke stuk waaraan ’n mens werk ’n hoogtepunt omdat jy jouself so totaal in die proses indompel dat dit jou hele bestaan word. Maar seker Hedda Gabler, Kate in Vasvat van ’n feeks, Naaimasjien, Oskar en die pienk tannie en dan Wie’s bang vir Virginia Woolf, wat my uitdagendste rol in ’n lang tyd was.

Maar regisseurs en medespelers sorg eintlik ook vir die hoogtepunte en ek het met die bestes gewerk!

FOTO’S: Sandra en Marius Weyers deur die jare

Mense noem jou ’n ikoon. Sien jy jouself so?

Ek weet rêrig nie wat dit beteken en wat van ’n ikoon verwag word nie. Dit maak my ongemaklik.

Wie is die rolmodel na wie jy opgekyk het toe jy as aktrise begin het?

Ek was altyd ’n groot bewonderaar van veral die Franse aktrises en dan veral Simone Signoret.

Wat het jy in haar waardeer?

Eerlikheid, aardsheid en subtiliteit en ’n ondergrondse rivier van emosie.

Wie dink jy is die nuwe “Sandra”?

Ek sou niemand so beledig nie. Elkeen is uniek en daar’s soveel amazing jong aktrises.

Wat respekteer jy in die nuwe generasie aktrises?

Die talent, die toewyding, die feit dat hulle bykans als kan doen: toneelspeel, sing, dans, ensovoorts. Maar ook die feit dat hulle ’n weerloosheid behou het wat ’n sekere edge aan hulle werk gee.

En wat dink jy is die belangrikste les vir hulle om te leer?

Dat jy vandag dalk so teleurgestel is deur wat kritici sê dat jy wil opskop, maar dat dit rêrig nie die moeite werd is om jouself daardeur te laat verpletter nie. Lees die goed eers as die produksie verby is, anders kan jy baie verward raak!

Wat sal jy graag nog wil bereik in jou loopbaan?

Meer en beter en met vreugde met mense wat my stimuleer, wie ek vertrou en liefhet. Nou raak ek soppy

Wat is jóú gunsteling-herinnering aan Sandra? Lewer kommentaar hier of op SARIE se Facebook– of Twitter-blad.